YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 26 OF 41

Plek van versoeking

Jy hoef nie goed te wees nie. Jy hoef nie vir 'n honderd kilomoet op jou knieë deur die woestyn te loop terwyl jy boete doen nie. Laat net toe dat die sagtheid van jou liggaam lief wees vir waarvoor dit lief is. Vertel my van jou wanhoop en ek sal jou van myne vertel. In die tussentyd gaan die lewe voort. In die tussentyd beweeg die sonlig en die reëndruppels aan oor die landskappe van die aarde, oor bome, berge en riviere. In die tussentyd keer die kolganse, hoog bo in die blou lug, terug huis toe. Wie jy ook al is, hoe alleen jy ook al is, offer die wêreld jou homself aan jou verbeelding en vra jou om te hou van die kolganse — kondig jou plek in die aardse familie oor en oor aan.

Mary Oliver in Wild Geese

(vrye vertaling in Afrikaans)

Lukas 22: 39-46

En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.

... uitgeput

Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid – Lukas 22:45.

In moeilike tye kom ons dikwels, soos die dissipels, by die punt van totale uitputting. Moeg gedink, moeg gehuil, moeg gesukkel. As ons maar net kon slaap en onttrek van al die gedagtes, vrae, druk van die samelewing en situasies wat ons in die gesig moet staar. Wat gaan gebeur? Wat moet ek doen? Maak ek ‘n verskil? Is ek goed genoeg? Gaan dinge uitwerk? Wanneer is hierdie lyding verby?

Mary Oliver se gedig Wild Geese, erken hierdie ingebore menslike stryd en deel wysheid om ons van hierdie las te bevry. Wanneer ons na die natuur kyk en soos die kolganse leef, sonder om ons plek en waarde in hierdie wêreld te bevraagteken, sal ons vind waarna ons soek.

Voordat Jesus die dissipels alleen los, sê Hy vir hulle: "Bid dat julle nie in versoeking kom nie." Van watter soort versoeking sou Jesus gepraat het? Iewers tussen Jesus se weggaan en terugkoms, het die dissipels beweeg van gebed na slaap. Was die versoeking dalk om van alles te onttrek, oor te gee aan die uitputting en te slaap? Of is dit dalk dat Jesus weet dat wanneer ‘n mens uitgeput is, ‘n mens meer kwesbaar is vir versoeking?

Waarheen gaan jy wanneer jy uitgeput is? Waarheen onttrek jy? Is dit ‘n goeie of slegte gewoonte? Vir die dissipels was dit dalk slaap. Dit is belangrik om te verstaan waarheen ons gaan wanneer ons uitgeput is, sodat ons die versoeking kan weerstaan.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture