YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 22 OF 41

Gebed is om te vra

Jesus leer ons om te vra en wys ons deur sy lewe hoe om te vra. Deur te vra toon Hy sy afhanklikheid. Hy doen niks uit Homself nie, maar vind alles by sy Vader. Dit is hoe ons, volgens Jesus, benydenswaardige geluk in die lewe kan kry (Matteus 5:3). Dit kom wanneer ek soos ‘n loot aan ‘n wynstok al my energie en lewe deur Hom kry. Ek erken nie net my afhanklikheid as ek vra nie, maar erken ook sy vermoë en goedheid. Hy is my Vader wat in die hemel is. Hy is nie beperk tot my aardse bestaan, hier en nou nie. Aan Hom behoort die krag en mag. Deur na Hom te draai word Hy groot in my — Hy word nie regtig groter nie maar in my gedagtes en verbeelding neem Hy toe.

Dit beteken nie dat ons altyd kry wat ons vra nie. Jesus het gevra dat die beker by Hom moet verbygaan en dit het nie. Die Vader hoor egter altyd wat ons vra. Hy word onder andere hoorder van gebed (Psalm 65:3) genoem. Hy antwoord (reageer) ook altyd op gebed. ‘n Engel (boodskapper) word gestuur en versterk Jesus in die tuin toe Hy moet bid (Lukas 22:43).

Jy kan ook agterkom dat Hy my nie gegee het wat ek wou hê nie, maar dat Hy my wel geantwoord het. Boodskappers (engele) het my pad langs gekom, wat my bygestaan en bemoedig het.

Oefening

Vra Hom om jou bewus te maak (te laat sien, agterkom, besef, herinner) van en aan …

  • waarvoor jy gevra het en hoe Hy jou geantwoord het,
  • tye wanneer jy gekry het wat jy van Hom gevra het,
  • die feit dat jy uitgenooi word om Hom te vertrou met sy plan vir jou — soos Jesus wat ‘n nee gekry het en dit aanvaar het omdat Hy in sy Vader se goedheid geglo het.

Deel nou wat jy dink en voel oor jou ervaring met Hom

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture