YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 20 OF 41

Staan op en bid

En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid … Lukas 22:46a

Jesus nooi dié wat Hom volg uit om ‘n plek te kry waar hulle kan afsonder en bid (Markus 6:31). Hoe voel jy wanneer jy hoor jy moet bid? Is dit iets wat jou inspireer?

Die dissipels het Jesus dopgehou en alles gesien wat Hy doen, wat Hy reggekry het, en toe vra hulle Hom om hulle te leer bid (Lukas 11:1). Hulle kon Hom gevra het om hulle te leer om te preek, om siekes gesond te maak, hoe om raad te gee, maar hulle vra Hom: "Leer ons bid." Hulle het besef dat gebed iets is wat hulle kan leer doen; en dat dit die een ding is wat hulle by Jesus moet leer, om die lewe te kan leef wat Hy leef. Gebed is nie ‘n gawe wat net sommiges het nie; dit is nie iets wat ‘n mens dadelik regkry nie; gebed is iets wat jy moet leer doen.

Jesus het hulle niks geleer wat Hy nie self ook gedoen het nie. Hy praat met sy Vader. Hy vra na sy Vader se wil sodat Hy kan doen wat sy Vader graag wil hê. Hy neem sy toevlug by sy Vader – in die onsekerheid, as donker wolke begin saampak (Matteus 26:36-38).

Ons almal kom op sulke plekke. Waar vind jy jou toevlug? Waar is jou skuilplek? Wat doen jy in tye van spanning? Ons kan ontvlug wanneer ons net ‘n bietjie wil wegkom van als; ons kan onsself verdoof deur aktiwiteite of middele wat ons gebruik. Dit is dalk iets wat ons almal tot ‘n mate doen. Dit is ons dalk geoorloof, maar dit is nie baie nuttig nie.

Daar is ‘n ander soort lewe waarin ons kan groei. ‘n Lewe saam met Hom waarin ons leer om al meer en meer van onsself aan Hom oor te gee en ons lewe in Hom te vind. Die eerste uitnodiging wat deur Jesus na ons toe kom, is om na die Vader te gaan. Die Vader wat jou gemaak het, deur wie se wil jy bestaan en wat jou diep en innig lief het. Gaan na Hom en deel jou lewe met Hom.

Oefening

Vra Hom om jou bewus te maak (te laat sien, agterkom, besef, herinner) aan en van …

  • hoe jy regtig voel en wat jy regtig dink van gebed,
  • sy opdrag en uitnodiging tot ‘n verhouding met Hom deur gebed.

Deel nou wat jy dink en voel oor jou ervaring met Hom.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture

About this Plan

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

Met hierdie Lydenstydreis bring ons 40 dae in Getsemane deur — daar in die tuin waar Jesus angsbevange by sy Vader pleit en in gesprek met God tree.

More