YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 17 OF 41

Die Beker van Hoop

“Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” Lukas 22:42-44

Jesus staan toe op en iets het met Hom gebeur. Hy is gevul met energie, met oortuiging, met duidelikheid en Hy word gevange geneem en oorgelewer. Volgens die tradisie begin die passie van Jesus hier intens. Hy kan nie meer kies wat Hy gaan doen nie, Hy kan net kies hoe Hy gaan reageer op wat ander mense aan Hom doen, maar Hy het vrede. Hy het moed.

Die skrywer van Hebreërs gee ons insig in wat binne-in Hom gebeur het. Hy sê: “Hy het die kruis verduur.” Met ander woorde, hy het hierdie lydensbeker gedrink, omdat hy die vreugde gesien het wat vir Hom uitgelê is. Hy het 'n oortuiging gehad oor wat sou gebeur deur wat Hy besig was om te doen. Daarom kon Hy die skaamte en beledigings wat Hy moes deurmaak, verduur.

Jesus sterf sonder om iemand te blameer. Hy het nie kruis toe gegaan en 'n rekening gestuur vir almal om te betaal daarvoor nie. Dis nie Herodes nie, dis nie Pilatus nie, dis nie die dissipels nie, dis nie die regering nie, dis my Vader se beker wat Hy vir My gee. Niemand sit met skuld nie. Hy spreek almal vry en sy dood is goed vir ander mense. Hy los ‘n groot geskenk vir ander.

Soms kom op plekke waar ons oorgelewer word, en dan kan ons stryd in die worsteling ervaar. Die Here gee vir ons sy krag. Dit is dieselfde krag en energie wat Jesus uit die dood uit opgewek het wat Hy vir ons deur sy Gees gee. In daardie oomblik kan ons beleef hoe lig in die duisternis skyn. Engele bedien ons in die teenwoordigheid van demone. Ons het hoop in ‘n situasie van wanhoop. Ons sit ons voet in die nuwe Jerusalem terwyl ons in Babilon bly. Ons ervaar die opstandingskrag van die Here Jesus en ons lewe beteken ook iets vir ander.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture