YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 349 OF 364

Wat is die doop? — Die belydenisskrifte

1. Lees die Apostoliese Geloofsbelydenis 10, Geloofsbelydenis van Nicea 10, Nederlandse Geloofsbelydenis 34, Heidelbergse Kategismus 69-74 en Westminster Geloofsbelydenis 28. Wat leer jy oor die doop? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Apostoliese Geloofsbelydenis 10

Ek glo in die vergewing van sondes.

Geloofsbelydenis van Nicea 10

Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.

Nederlandse Geloofsbelydenis 34

Artikel 34

DIE HEILIGE DOOP

Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Romeine 10:4), deur sy bloed te stort 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matteus 28:19).

Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament dit wat sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egte sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.

Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kolossense 2:11).

Matteus 28:19; 1 Korintiërs 6:11; Titus 3:5; Hebreërs 9:14; 1 Johannes 1:7; (Openbaring 1:5); 1 Petrus 1:2; 2:24; 1 Johannes 5:16; Johannes 19:34; Matteus. 3:11; 1 Korintiërs 3:7; Romeine 6:3; Efesiërs 5:26; Handelinge 22:16; 1 Petrus 3:21; Galasiërs 3:27; 1 Korintiërs 12:13; Efesiërs 4:5; Hebreërs 6:1-2; Handelinge 8:16; 2:38, 41; Matteus 19:14; 1 Korintiërs 7:14; Genesis 17:11; Kolossense 2:11; Levitikus 12:6.

Heidelbergse Kategismus 69-74

69 Vraag: Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?

Antwoord: So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.

(a) Matteus 28:19. (b) Matteus 28:19; Markus 16:16; Handelinge 2:38; Johannes 1:33; Matteus 3:11; Romeine 6:3, 4. (c) 1 Petrus 3:21; Markus 1:4; Lukas 3:3.

70 Vraag: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?

Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).

(a) Hebreërs 12:24; 1 Petrus 1:2; Openbaring 1:5; 7:14; Sagaria 13:1; Esegiël 36:25. (b) Johannes 1:33; 3:5; 1 Korintiërs 6:11; 12:13; Romeine 6:4; Kolossense 2:12.

71 Vraag: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?

Antwoord: Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees ..." (Matteus 28:19); en: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word" (Markus 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem (Titus 3:5; Handelinge 22:16).

72 Vraag: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?

Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).

(a) Matteus 3:11; 1 Petrus 3:21; Efesiërs 5:26. (b) 1 Johannes 1:7; 1 Korintiërs 6:11.

73 Vraag: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?

Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

74 Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word?

Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).

(a) Genesis 17:7. (b) Matteus 19:14. (c) Lukas 1:15; Psalm 22:11; Jesaja 44:1-3; Handelinge 2:39. (d) Handelinge 10:.47. (e) Genesis 17:14. (f) Kolossense 2:11-I3.

Westminster Geloofsbelydenis 28

1. Die doop is 'n sakrament van die Nuwe Testament, ingestel deur Jesus Christus. 1 Deur die doop word 'n persoon plegtig in die sigbare kerk opgeneem. 2 Die doop is ook 'n teken en seël van die genadeverbond, 3 van die gelowige se inseëning in Christus , 4 van wedergeboorte, 5 van vergewing van sondes, 6 en van die gelowige se oorgawe aan God deur Jesus Christus om in 'n nuwe lewe te wandel. 7 Deur Christus se eie leiding moet hierdie sakrament in sy kerk voortgesit word tot aan die einde van die wêreld. 8

1. Matteus 28.19, Markus 16.16.

2. 1 Korintiërs 12.13, Galasiërs 3.27-28, Handelinge 2.41, 10.47.

3. Romeine 4.11, Kolossense 2.11-12, Galasiërs 3.29.

4. Galasiërs 3.27, Romeine 6.3-5.

5. Titus 3.5.

6. Markus 1.4, Handelinge 2.38, 22.16.

7. Romeine 6.3-4.

8. Matteus 28.19-20.

2. Die fisieke stof wat in hierdie sakrament gebruik moet word, is water. Die persoon moet gedoop word in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees 9 gewoonlik deur 'n wettig geroepe bedienaar van die evangelie. 10

9. Matteus 3.11, Johannes 1.33, Matteus 28.19-20, Handelinge 8.36,38, 10.47, Efesiërs 4.11-13.

10. Sien Algemene Nota.

3. Om die persoon in die water te doop is nie nodig nie. Die doop word korrek bedien deur water op die persoon te gooi of te sprinkel. 11

11. Hebreërs 9.10,19-22, Handelinge 2.41, 16.33, Markus 7.4, Handelinge 1.5, 2.3-4,17, 11.15-16, 10.46-47, 1 Korintiërs 10.2.

4. Nie net diegene wat werklik geloof in en gehoorsaamheid aan Christus bely, moet gedoop word nie, 12 maar ook die babas van een of albei gelowige ouers. 13

12. Markus 16.15-16, Handelinge 8.37-38; sien aanhalings onder Afdeling 1 hierbo, Handelinge 9.18.

13. Genesis 17.7,9-10, Galations 3.9,14, Kolossense 2.11-12, Handelinge 2.38-39, Romeine 4.11-12, 1 Korintiërs 7.14, Matteus 28.19, Markus 10.13-16, Lukas 18.15-16.16.33.

5. Alhoewel dit 'n groot sonde is om hierdie sakrament te veroordeel of te verwaarloos, 14 is die doop nie onlosmaaklik verbind met God se genade en verlossing nie. 'n Mens kan sonder doop gered en wedergebore word, 15 en aan die ander kant word elkeen wat gedoop word nie dus onbetwisbaar wedergebore nie. 16

14. Lukas 7.30, Eksodus 4.24-26, Genesis 17.14, Deuteronomium 28.9.

15. Romeine 4.11, Handelinge 10.2, 4, 22, 31, 45-47, Lukas 23.40-43.

16. Handelinge 8.13,23.

6. Die doeltreffendheid van die doop is nie gekoppel aan daardie oomblik in tyd waarin dit bedien word nie. 17 Deur die korrekte gebruik van hierdie sakrament word die genade wat daarin beloof is, egter nie net aangebied nie, maar eintlik beliggaam en deur die Heilige Gees aan almal verleen. (volwasse of baba) aan wie daardie genade gegee word, volgens die doel van God se eie wil en op sy bestemde tyd. 18

17. Johannes 3.5,8, Romeine 4.11.

18. Galasiërs 3.27, Titus 3.5, Efesiërs 5.25-26, Handelinge 2.38-41, Efesiërs 1.4-5, Handelinge 16.31,33.

7. Die sakrament van die doop moet slegs een keer aan 'n persoon bedien word. 19

19. Titus 3.5;

daar is geen bevel nie, en geen voldoende voorbeeld vir die herhaling van die doop nie.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die doop.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More