Wie Is God?Sample

Reik uit na dié wat teen jou sondig
Jesus is in Matteus 18 besig om die dissipels te leer hoe om as koninkrykskinders in verhouding met mekaar te moet lewe. Hierdie vierde toespraak van Hom, die sogenaamde kerkrede, begin met ’n vraag van die dissipels oor wie nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele is. Dit is nogal ironies gegewe dat Jesus so pas oor sy eie kruispad gepraat het. Jesus antwoord daarom nie net dié vraag nie, maar brei uit oor die verhoudinge binne die kerk wat pas by die model van selfontlediging wat Hy so pas vir hulle gegee het.
Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35). Daarmee word die gedeelte wat handel oor die gemeenskap van die koninkryk afgesluit.
MATTEUS 18:15-20
Ons lees hfst. 18:15-20 wat handel oor hoe koninkrykskinders mekaar onderling teregwys.
15“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel. 18“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
Reik uit na dié wat teen jou sondig
Hierdie toespraak van Jesus, die kerkrede, het alles met onderlinge verhoudinge te make. Jesus gaan veral dieper in op die wyse waarop onderlinge verhoudings optimaal in stand gehou kan word. Hy gee onder andere hier die opdrag dat daar op ’n liefdevolle wyse uitgereik moet word na iemand wat teen jou sondig.
Ons ken dit goed, dink ek.
- In die eerste rondte probeer jy dit uitsorteer “tussen jou en hom/haar alleen”.
- In die tweede rondte, as ’n gesprek onder vier oë nie suksesvol was nie, neem mens een of twee mense, steeds ’n klein groepie, saam om as getuies te dien van jou eerlike poging om die saak te besleg.
- In die derde rondte word die gemeente (die ekklesia – die kerk) ingelig.
- En in die vierde en laaste rondte word hy of sy nie meer as deel van die geloofsgemeenskap geag nie.
Laasgenoemde aksie, om iemand as ’n tollenaar of ’n heiden te beskou, het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat jy dan sonder opsies was om in ’n geloofsgemeenskap tereg te kom. Vandag is dit ietwat anders.
Wat sê Jesus vir ons hiermee?
Sorteer dinge uit voor dit in onderlinge vetes verander
Die punt wat Jesus maak, is dat die onus steeds volledig op die geloofsgemeenskap rus om onderlinge konflik en sondige optredes uit te sorteer voor dit in onderlinge vetes verander. As dinge regtig ontplof, is dit moeilik om uit te sorteer.
Jesus wys hiermee vir ons op die geweldige verantwoordelikheid wat rus op die geloofsgemeenskap om dié manier van doen te volg, want dit het ewige konsekwensies. Hoekom? Want waar twee of drie saamstem hieroor, sal God die Vader dit aan hulle toestaan. God is immers in hulle midde.
Ons is geneig om hierdie teks van Jesus se teenwoordigheid in ons midde buite konteks te lees, asof dit net te make het met sy teenwoordigheid as ons Hom aanbid. Maar die gebedsverhoring wat hier ter sprake is, dui nie maar net op enigiets nie. Hier dui dit spesifiek op Jesus se teenwoordigheid wat met onderlinge vermaning te make het. Daar is wel ander tekste wat natuurlik oor ander tipes gebedsverhoring praat, maar dit is nie wat Jesus hier bedoel nie. Hier gaan dit om sy teenwoordigheid as konflik besleg word in die geloofsgemeenskap.
En ons moet dit goed hoor. Ons het ’n dure verantwoordelikheid om uit te reik en uit te sorteer. Ons is die gemeenskap wat die boodskap van versoening het, wat aan hierdie wêreld wys hoe dit werk. Vir daardie doel is die Here in ons midde. Vir daardie doel gee Hy vir ons wat ons vra. Vir daardie doel gee Hy vir ons wysheid en verdraagsaamheid en maniere om die sake van die geloofsgemeenskap te reël.
Want, waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek by hulle
Hoekom? Want aanbidding is iets wat in die eerste plek met God te make het. Hy is die hart daarvan: “Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek by hulle.” En ons moet sorg dra dat Hy aanbid word, dat ons almal saam Hom kan aanbid.
Daarom is aanbidding ook altyd spesifiek. Dit groei uit ons onderlinge verhoudinge. Dit gaan oor die werklikheid van wat tussen ons gebeur. In die kollig is in dié gedeelte konflikhantering. En dit is belangrik.
Ons sien dit eintlik regdeur die NT. Lees net in Handelinge oor wat gebeur het waar twee of drie in Jesus se Naam bymekaargekom het:
- Wanneer die Joodse Raad die dissipels dreig om nie langer in die Naam van Jesus te preek nie, vergader die geloofsgemeenskap en bid tot die Here wat in hulle midde aanwesig is: “En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig,” en Hy antwoord deur die plek te skud en hulle met die Heilige Gees en met vrymoedigheid te vul, sodat hulle die boodskap van Jesus onbevreesd kan verkondig (Handelinge 4).
- Toe Petrus deur Herodes in die tronk gegooi is om hom leed aan te doen, het daar van die gemeente “vir hom 'n volgehoue gebed tot God opgegaan” en het ’n engel van die Here hom uit die tronk gaan red (Handelinge 12).
- Toe Paulus en die gemeente in Antiogië op ’n tyd besig was om te bid en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê om Paulus en Barnabas af te sonder vir die werk waarvoor God hulle geroep het, en die evangelisasie van die hele wêreld het ’n aanvang geneem (Handelinge 13). Só is Turkye en Europa bereik, ook Afrika en later deur ander gelowiges die roete na Asië ingeslaan en het Christelike gemeenskappe reg deur die bekende wêreld versprei.
Aanbidding sluit voorbidding en hulpverlening in
En die tipe byeenkomste moet vandag ook gehou word, want die bedreiging van die wêreld gaan net voort. Bid bv vir die gelowiges in vervolging:
- Vir gelowiges vanuit ʼn Moslem agtergrond wat gereeld teenstand van hul families en gemeenskappe in die gesig staar.
- Vir wysheid vir Christene vanuit die buiteland, wat daar werk, en meer en meer deur die owerhede dopgehou word.
- Vir werkers wat op verskillende maniere ontwortelde Christene ondersteun deur traumaberading, opleiding en projekte om ʼn inkomste te genereer. Ook familie van ons eie lidmate is by sulke werk betrokke.
Dit is só belangrik dat ons betrokke raak by voorbidding en hulpverlening aan die verskeie krisispunte in die wêreld, bv. by Geopende Deure se verskillende aksies: https://www.opendoors.org.za/afr/. Lees daar hoe jy kan intree in vir ’n familie in Koeweit. Skryf daar ’n brief om ’n gelowige in Iran te bemoedig. Bid vir China met die inligting wat hulle daar gee oor die verdrukking wat steeds teen Christene plaasvind.
Ons aanbidding is ’n dinamiese en lewensveranderende ervaring van God se teenwoordigheid. Dit kan jou ervaring van God se teenwoordigheid vernuwe as jy begin om vir die uitdagings wat die koninkryk van God ervaar regdeur die wêreld te bid.
Die hele lewe is ’n erediens, ’n aanbidding van God
Wat ons dus moet verstaan, is dat Jesus hier in Matteus vir ons net een voorbeeld gee van hoe ware aanbidding werk. Dit groei hier uit ’n konfliksituasie. Daar is egter baie ander maniere waarop aanbidding werk. Die Psalms is vol daarvan. Die OT verhale van die profete, priesters en konings is vol daarvan. Dit omsluit die hele lewe. Wanneer jy bid in verwondering, aanbid jy God. Wanneer jy getuig van God se wonders, aanbid jy God. Wanneer jy in die tempel voor Hom kniel, aanbid jy God. Wanneer jy in die berge jou aan die natuurskoon verwonder, aanbid jy God. Wanneer jy die nood van die wêreld voor Hom bring, aanbid jy God.
Die hele lewe is ’n erediens, ’n aanbidding van God. Geen wonder dat ons Liedboek drie rubrieke het naas die 150 Psalms nie: 1) liedere vir die erediens, 2) liedere vir die liturgiese jaar, en 3) liedere vir die erediens van die lewe, wat gaan oor God se skepping en onderhouding van alles, sy heerskappy, die kerk, oor geloof en vertroue, oor die huwelik, oor kindwees, oor liedere vir die oggend en liedere vir die aand, oor tafelgebede, oor die jaarwisseling, oor lyding en nood, oor sterwe en begrafnis en oor ons hoop en die voleinding van die lewe. ’n SKATKIS wat ons nie net in die erediens moet gebruik nie, maar oral!
I fear your kindness — I want to become a word of God
Ek sluit af met die verhaal van Ignatius wat ook verband hou met hierdie teks in Matteus 18.
Ignatius, ‘n biskop van Antiogië in die begin van die tweede eeu nC, was op pad na Rome. Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus. Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.
Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus, het hy Hom aanbid, en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël. Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie. Inteendeel. Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.
Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons sendelinge op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde:
“Ek vrees julle goedhartigheid, wat my skade kan berokken. Julle kan dalk bereik wat julle beplan. Maar as julle nie ag slaan op my versoek nie, sal dit vir my baie moeilik wees om by God uit te kom.”
Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:
“As julle oor my swyg, sal ek 'n woord van God word. Maar as julle julself toelaat om deur die liefde waarin julle my vlees hou, verander te word sal ek weer niks meer as ’n menslike stem wees nie.” (Brief van Ignatius, Romeine 1,2-2.1)
Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matteus 18:1-5).
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

When God Makes Things Right: A 5-Day Devotional on Nahum

When Tithing Feels Impossible: 3 Truths That Free You From Financial Guilt

Read the Bible Effectively

The Holy Spirit: God Through Us

The Creator's Battle: Winning the Inner War for Your Art

When You Are the Problem: The Courage to Look in the Mirror When Your Church Is in Crisis

Journey Through Esther

BE a PILLAR

What Is "The Way of Christ?"
