YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 335 OF 364

Wat is die Christelike tug? — Die belydenisskrifte

1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 30-32, Heidelbergse Kategismus 83-85, Dordtse Leerreëls 3-4.17 en Westminster Geloofsbelydenis 30. Wat leer jy oor die Christelike tug? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis 30-32

Artikel 30: DIE REGERING VAN DIE KERK

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Timoteus. 3).

1 Korintiërs 4:1-2; 2 Korintiërs 5:19; Johannes 20:23; Handelinge 26:18; 1 Korintiërs 15: 10; Matteus 5:14; Lukas 10:16; Galasiërs 2:8; Titus 1:5; 1 Timoteus 3.

Artikel 31: DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK

Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom. Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is — die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.

Handelinge 6:3-4; 1 Timoteus 4:13; Handelinge 1:23; 13:2; 1 Timoteus 5:22; 1 Korintiërs 12:28; Romeine 12:8; 1 Timoteus 4:14; Matteus 18:26; 1 Korintiërs 3:8; Romeine 12:7-8; 2 Korintiërs 5:19; Handelinge 26:18; Jesaja 61:1; Efesiërs 1:22; Kolossense 1:28; 1 Tessalonisense 5:12-13; Hebreërs 13:7,17.

Artikel 32: DIE ORDE EN TUG VAN DIE KERK

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

1 Korintiërs 7:57; Kolossense 2:6-7; Matteus 15:9; Jesaja 29:13; Galasiërs 5:1; Romeine 16:17-18; Matteus 18:17; 1 Korintiërs 5:5; 1 Timoteus 1:20.

Heidelbergse Kategismus 83-85

83 Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.

84 Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

(a) Johannes 20:21-23; Matteus 16:19.

85 Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).

(a) Matteus 18:15-17; 1 Korintiërs 5:4, 5, 11; 2 Korintiërs 2:6-8.

Dordtse Leerreëls 3-4.1.17

Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weergebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie. Inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels, en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense oor hierdie genade van God, tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed, gelowig onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie, onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat in die gemeente onderrig gee of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie nou aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad, wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom toe, vanweë die middele sowel as vanweë die verlossende vrug en krag daarvan, alle heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Westminster Geloofsbelydenis 30

Veroordeling deur die Kerk

1. As koning en hoof van sy kerk het die Here Jesus die stigting van kerkregering beveel, apart van die burgerlike gesag, wat deur beamptes van die kerk uitgevoer word. 1

1. Jesaja 9.6-7, 1 Timoteus 5.17, 1 Tessalonisense 5.12, Handelinge 20.17,28, Hebreërs 13.7,17,24, 1 Korintiërs 12.28, Matteus 28.18-20, Psalm 2.6-9, Johannes 18.36.

2. Aan hierdie offisiere is die sleutels van die koninkryk van die hemele opgedra, wat hulle bemagtig om mense te bevry van die sondeskuld of om hulle daaraan te bind; om die koninkryk van die hemele te sluit vir die onberouvolles deur die woord en veroordeling; en om die koninkryk vir berouvolle sondaars oop te stel deur die bediening van die evangelie en deur veroordeling terug te trek soos die geleentheid dit vereis. 2

2. Matteus 16.19, 18.17-18, Johannes 20.21-23, 2 Korintiërs 2.6-8.

3. Veroordeling deur die kerk is nodig om geestelike broers wat een of ander ernstige oortreding begaan het, terug te eis en terug te kry; om ander te weerhou om soortgelyke oortredings te pleeg; om daardie suurdeeg te suiwer wat die hele deeg kan besoedel; om die eer van Christus en die heilige belydenis van die evangelie te bevestig; en om die toorn van God te vermy, wat tereg op die kerk mag val, sou dit toelaat dat sy verbond en die sakramente deur berugte en hardnekkige oortreders ontheilig word. 3

3. 1 Korintiërs 5, 1 Timoteus 5,20, Matteus 7,6, 1 Timoteus 1,20, 1 Korintiërs 11,27-34, Judas 23, 2 Samuel 12,14.

4. Die beste manier om hierdie doel te bereik, is dat die amptenare van die kerk in ooreenstemming met die erns van die oortreding en die skuld van die oortreder optree deur die oortreder te waarsku, en hom vir 'n tyd van die sakrament van die nagmaal uit te sluit, of hom uit die kerk te verban. 4

4. 1 Tessalonisense 5.12, 2 Tessalonisense 3.6,14-15, 1 Korintiërs 5.4-5,13, Matteus 18.17, Titus 3.10.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die Christelike tug.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More