YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 300 OF 364

Vraag 43: Wat is die Ons Vader? — Die belydenisskrifte

1. Lees Heidelbergse Kategismus 116-121 en dink na oor die Ons Vader.

116 Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

(a) Psalm 50:14. (b) Matteus 7:7; Lukas 11:9, 13; 1 Tessalonisense 5:17.

117 Vraag: Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig (e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).

(a) Openbaring 19:10; Johannes 4:22-24. (b) Romeine 8:26; 1 Johannes 5:14; Jakobus 1:5. (c) Johannes 4:24; Psalm 145:18. (d) 2 Kronieke 20:12. (e) Psalm 2:11; 34:19; Jesaja 66:2. (f) Romeine 10:14; Jakobus 1:6. (g) Johannes 14:13; 16:23; Daniël 9:18. (h) Matteus 7:8; Psalm 27:8.

118 Vraag: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a). (a) Jakobus 1:17; Matteus 6:33.

119 Vraag: Hoe lui hierdie gebed?

Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

(a) Matteus 6:9-13 AFR53; Lukas 11:2-4 AFR53.

120 Vraag: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?

Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge ons ontsê (a).

(a) Matteus 7:9-11; Lukas 11:11-13.

121 Vraag: Waarom word hier bygevoeg: wat in die hemel is?

Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (b).

(a) Jeremia 23:23, 24; Handelinge 17:24, 25, 27. (b) Romeine 10:12.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die Ons Vader.

Scripture

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More