Wie Is God?Sample

Vraag 27: Wie is die Seun? — Die belydenisskrifte
1. Lees die aanhalings uit die Apostoliese Geloofsbelydenis 2, die Geloofsbelydenis van Nicea 2-3, die Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37, die Nederlandse Geloofsbelydenis 10 en 18, sowel as die Heidelbergse Kategismus 19,29,31,36 en 47 wat ‘n uitleg van onder andere die Apostoliese Geloofsbelydenis 2-3 is. Wat leer jy oor God die Seun uit hierdie belydenisse? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?
Apostoliese Geloofsbelydenis 2
2. Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria.
Geloofsbelydenis van Nicea 2-3
2. Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.
3. Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.
Geloofsbelydenis van Athanasius 31-37
31. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;
32. volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees,
33. na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
34. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.
35. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.
36. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.
37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,
Nederlandse Geloofsbelydenis 10
DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Filippense 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Genesis 1:1 en Johannes 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Hebreërs 1:2 en Kolossense 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: "Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid" (Miga 5:1 AFR53), en sê die apostel: "Hy is sonder begin van dae of lewenseinde" (Hebreërs 7:3 AFR53). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.
Johannes 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kolossense 1:15; Hebreërs 1:3; Matteus 3:17; 17:5; Johannes 8:24; 10:30; 9:36; Handelinge 8:34; Jesaja 7:14; Romeine 9:5; 1 Tessalonisense 3:11; Filippense 2:11; 2 Korintiërs 5:19; Handelinge 20; Efesiërs 3:9; Romeine 14; Titus 2; 1 Korintiërs 8:6; Hebreërs 1:1; 3:4; Johannes 1:3; 1 Johannes 5:7, 14, 20; Openbaring 1-6; Johannes 8:58; 17:5; 1 Korintiërs 10:9,. Galasiërs 4:4; Miga 5:2; Kolossense 1:15; Psalm 2:7, 12; Hebreërs 13:8.
Nederlandse Geloofsbelydenis 18
DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Filippense 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook 'n egte menslike siel om so 'n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Hebreërs 2:14), dat Hy wat die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Handelinge 2:30 en Romeine 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Lukas 1:42), gebore uit 'n vrou (Galasiërs 4:4), 'n spruit van Dawid (Jeremia 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jesaja 11:1), van die geslag van Juda afstam (Hebreërs 7:14), uit die Jode as mens gebore (Romeine 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte — maar sonder sonde — aan sy broers gelyk geword het (Hebreërs 2:17 en Hebreërs 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matteus 1:23).
Filippense 2:7; 1 Timoteus 3:16; Lukas 1:55; Genesis 26:4; 2 Samuel 7:12; Psalm 132:11; Handelinge 13:23; 1 Timoteus 2:5; 1 Korintiërs 12:3; Deuteronomium 29:2; Psalm 119:34; Romeine 7:19; Jeremia 33:15; Hebreërs 7:14; Romeine 9:5; Galasiërs 3:16; Hebreërs 2:16; Matteus 1:16.
Heidelbergse Kategismus 19
19 Vraag: Waaruit weet jy dit (dat Jesus die Middelaar is)?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (e).
(a) Genesis 3:15: (b) Genesis 22:18; 12:3; 49:10. (c) Jesaja 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jeremia 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41, Miga 7:18-20; Handelinge 10:43; 3:22-24; Romeine 1:2; Hebreërs 1:1. (d) Hebreërs 10:1, 7; Kolossense 2:7; Johannes 5:46. (e) Romeine 10:4; Galasiërs 4:4; 3:24; Kolossense 2:17.
Heidelbergse Kategismus 29
29 Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a) Matteus 1:21; Hebreërs 7:25. (b) Handelinge 4:12; Johannes 15:4, 5; 1 Timoteus 2:5; Jesaja 43:11; 1 Johannes 5:11.
Heidelbergse Kategismus 31
31 Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a) Psalm 45:8; Hebreërs 1:9; Jesaja 61:1; Lukas 4:18. (b) Deuteronomium 18:15; Handelinge 3:22; 7:37; Jesaja 55:4. (c) Johannes 1:18; 15:15. (d) Psalm 110:4. (e) Hebreërs 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Romeine 8:34; Hebreërs 9:24; 1 Johannes 2:1; Romeine 5:9, l0. (g) Psalm 2:6; Sagaria 9:9; Matteus 1:5; Lukas l:33; Matteus 28:18; Johannes 10:28 Openbaring 12:10, 11.
Heidelbergse Kategismus 36
36 Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).
(a) Hebreërs 7:26, 27. (b) 1 Petrus 1:18, 19; 3:18; 1 Korintiërs 1:30, 31; Romeine 8:3, 4; Jesaja 53:11; Psalm 32:1.
Heidelbergse Kategismus 47
47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).
(a) Matteus 28:20. (b) Hebreërs 8:4; Matteus 26:11; Johannes 16:28; 17:11; Handelinge 3:21. (c) Johannes 14:18; Matteus 28:20.
2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor God as Seun.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

Jesus When the Church Hurts

(Re)made in His Image

Meet God Outside: 3 Days in Nature

Numbers | Reading Plan + Study Questions

The Gospel of Matthew

The Artist's Identity: Rooted and Secure

One New Humanity: Mission in Ephesians

I Don’t Like My Kid Right Now: Honest Truths for Tired Christian Parents

Evangelistic Prayer Team Study - How to Be an Authentic Christian at Work
