’n Sterk Man is WysVoorbeeld

BROERS VORM MEKAAR
“Yster slyp yster. So vorm mense mekaar.”
(Spreuke 27:17 DB)
Die beeld in Spreuke 27:17 is besonders. Sien in jou gedagtes ’n werkswinkel van ’n meester-ystersmid. Jy sien hoe hy na ’n groot houtkrat toe loop en ’n stuk rou yster uitsoek. Hy vat ondersoekend daaraan en visualiseer wat dit dalk kan word. Dan begin hy dit vorm deur dit warm te maak en daarop te slaan. Met die een harde hou na die ander maak sy smidshamer die yster langer. En dan, vir die eerste keer, kry ons ’n kykie op wat die yster besig is om te word.
Maar hy is nog nie klaar nie. Hy sit die smidshamer neer en verruil dit vir ’n meer aggressiewe stuk gereedskap – die slypmasjien. Hy druk die stuk yster teen die vinnig-draaiende wiel en die vonke spat. Met elke draai word klein stukkies yster afgeskuur. Soos hy voortgaan, verdwyn die dofheid van die yster in sy hande. Die yster begin blink en dit wat hy maak, begin vorm aanneem.
Dit is die beeld wat Salomo gebruik om te beskryf watter waarde een godvresende man vir ’n ander het. Met die hulp van ’n meer ervare man word iemand beter gemaak. Dit verg ’n meer ervare man om ’n visie te hê vir ander, hulle te vorm en hulle te help om te word wie hulle moet wees. Hiersonder kan ’n man maklik nutteloos word, soos ’n stuk rou yster wat in ’n krat lê. En ongebruikte yster wat in ’n krat lê, doen net een ding – dit roes. Maar ’n man wat deur die hande van ’n mentor of afrigter gevorm word, neem ’n nuwe vorm aan, dit word bruikbaar en bereik sy doel.
Moet dus nie sit en wag nie. Dit is tyd om gevorm te word, om beter gemaak te word. Bou ’n verhouding met iemand wat meer ervaring as jy het. Moenie dit kompliseer nie. Soek net iemand wat goed is in iets waarin jy nie goed is nie en vra hom een vraag: “Hoe doen jy dit?” En gee dan aandag aan enige goeie en Goddelike raad wat vir jou gegee word.
BID VANDAG
Here, bring wyser en godvresende mans oor my pad. Ek wil graag ’n beter man wees. Amen.
Hierdie oordenkings is geneem uit ’N STERK MAN IS WYS deur Vince Miller © Christelike Uitgewersmaatskappy. Besoek gerus www.cumbooks.co.za.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hoe kan jy ’n sterk, wyse man wees in vandag se wêreld? Dit is beslis ’n groot uitdaging. Vince Miller gee praktiese raad om mans te help om vas te staan voor die belangrikste uitdagings waarvoor hulle vandag te staan kom. Elk van die 7 dagstukke fokus op ’n gedeelte uit Spreuke om mans te bemoedig en uit te daag om in wysheid te groei.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us