’n Sterk Man is WysVoorbeeld

’n Sterk Man is Wys

DAG 1 VAN 7

MOET NOOIT OPHOU NIE

“My seun, luister na wat jou pa jou leer. Moenie wat jou ma vir jou sê in die wind slaan nie. Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek.”
(Spreuke 1:8-9 NLV)

Die grootste deel van Spreuke is geskryf deur koning Salomo, seun van koning Dawid, vir wie God groot wysheid geskenk het. Die boek Spreuke is ’n versameling van sy wyshede soos ’n pa dit vir sy seun sou gee.

Die woorde van Spreuke 1:8-9 het my aangetrek omdat dit impliseer dat iets belangriks in die huis gebeur. Hulle impliseer dat ’n ma en pa kinders leer en help. Dit veronderstel dat dit in die huis gebeur waar ouers hulle tyd belê in hulle heel belangrikste volgelinge – hulle kinders.

Dit is dikwels egter nie meer die geval nie, nie waar nie? Ons het tot ’n groot mate die opvoeding van ons kinders oorgegee aan “professionele opvoeders” wat ons kinders leer en lei. Dit gebeur al dekades lank. Ek dink ons begin deesdae die gevolge van hierdie oordeelsfout sien.

Ons kinders word nie net opgevoed deur onderwysers wat nie altyd dieselfde waardes as ons het nie, maar ook deur sosiale media, YouTube en afrigters wat meer tyd saam met hulle deurbring as ons. Ons kinders leer nie meer by ons oor seks, identiteit en die geskiedenis nie. Hulle leer apart van ons oor hierdie dinge, weg van die huis af en sonder ’n Bybelse perspektief. Om maar net te hoop dat ons kinders Christelike onderwysers, afrigters of vriende sal hê, is nie die beste plan nie; hoop alleen is immers nie ’n plan nie.

Saam met ouers wat wil lei, is egter nog iets nodig: ’n seun of dogter wat wil luister en nie hulle leiding sal verwerp nie. Beide is belangrik: ouers wat hulle kinders doelgerig leer en kinders wat doelgerig luister.

En dit is harde werk! Die hardste van alle werk. En weet jy hoe weet ek dit? Want ek was die hardkoppige seun én die lui pa. En ek is seker jy was dit ook. Die enigste manier om dit reg te stel, is om nooit op te hou om te luister nie en nooit op te hou om te leer en te lei nie.

As jy dus ’n pa is, leer jou kinders (of kleinkinders) vandag iets. Moet dit nie onnodig kompliseer nie. Stuur vir hulle jou gunsteling Bybelvers en sê hoekom jy daarvan hou. En, as jou ouers nog leef, luister vandag mooier na hulle. Vra hulle hoe hulle ’n spesifieke situasie sou hanteer wat jy op die oomblik moet hanteer en luister dan na die wysheid wat hulle het.

Onthou, dit is nooit te laat om iemand te leer nie en dit is nooit te laat om te luister nie. Kom ons ontgin die wysheid van Salomo en bring opvoeding, leierskap, bereidwilligheid, eer en God, terug in ons huise in.

BID VANDAG

Here, gee vir my die bereidwilligheid om te luister. Gee dan ook vir my die wysheid om ander te leer. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

’n Sterk Man is Wys

Hoe kan jy ’n sterk, wyse man wees in vandag se wêreld? Dit is beslis ’n groot uitdaging. Vince Miller gee praktiese raad om mans te help om vas te staan voor die belangrikste uitdagings waarvoor hulle vandag te staan kom. Elk van die 7 dagstukke fokus op ’n gedeelte uit Spreuke om mans te bemoedig en uit te daag om in wysheid te groei.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us