Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die KruisVoorbeeld

Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die Kruis

DAG 26 VAN 29

Kyk, Ek Kom Gou

Lees: Openbaring 22:6-21

SOAP: Openbaring 22:12-13

Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde."

Oordenking

Heel aan die einde van die Skrif praat Jesus. Sy woorde weerklink soos 'n laaste hartklop van hoop: "Kyk! Ek kom gou!" (v.7).

Dit is nie leë woorde nie. Hierdie woorde is 'n belofte, verseël deur die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde, die Een wat altyd was, is en weer sal kom.

Soms voel "gou" soos 'n lang wag, veral wanneer die wêreld donker, swaar en onseker voel. Maar God se definisie van gou gaan nie oor ons kalenders nie. Dit gaan oor sy perfekte tydsberekening. Hy is nie traag om sy belofte na te kom nie, “Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Petrus 3:9).

En so wag ons. Nie passief nie, maar afwagtend. Nie bang nie, maar getrou.

Ons wag terwyl ons die dinge doen wat Hy ons geroep het om te doen. Daar is 'n rede waarom Hy nog nie teruggekeer het nie, daar is 'n rede hoekom Hy ons geplaas het waar ons is en daar is nog werk om te doen.

Liewe vriend of vriendin, Jesus se wederkoms is nie 'n miskien nie. Dit is 'n sekerheid. En dit is ook 'n sekerheid dat Hy "elkeen sal betaal volgens wat hy gedoen het" (v. 12). Laat ons dus aanhou om goed te doen, terwyl ons sy laaste woorde onthou: "Ja, Ek kom gou!" (v. 20).

Kom, Here Jesus. Kom.

Gebed

Jesus, dankie vir die belofte dat U weer kom. Wys my asseblief die werk wat U vir my voorberei het en help my om getrou te wees totdat U terugkeer. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Die Verlosser wat Uitreik na Ons - 'n Studie oor die Nabyheid van God van die Krip tot die Kruis

Van die krip tot die kruis tot by die belofte van sy wederkoms, het Jesus nog altyd uitgereik na ons. Nie om te oordeel nie, maar om te red. Nie om te eis nie, maar om te gee. Nie om op ‘n afstand te bly nie, maar om by ons te woon. Hierdie Bybelstudie neem jou op ‘n reis deur sleutelgedeeltes in die Skrif wat die nabyheid van Christus openbaar.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans