Van vrees na vertroueVoorbeeld

DIE GOD VAN DIE RIETSEE IS STEEDS DIESELFDE GOD
"Moses het die volk geantwoord: 'Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die HERE julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie'” (Eksodus 14:13 NLV).
Die Israeliete moes baie bang gewees het toe hulle sien Farao en sy weermag jaag op hulle af (Eksodus 14). Boonop is daar ’n see voor hulle — hulle is vasgekeer! Moses troos hulle dat God hulle sal beskerm en red.
As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Dit laat my dink aan Gladys Aylward wat lank gelede ’n sendeling in China was. Sy en die weeskinders met wie sy gewerk het, was gedwing om oor die berge te vlug toe die Japannese Yangcheng binnegeval het. Sy was later moedeloos en het gewonder of hulle dit sou maak.
Toe het een van die kinders haar herinner aan hulle geliefde storie van Moses en die Israeliete wat veilig deur die Rietsee gekom het. “Maar ek is nie Moses nie!” het Gladys mismoedig uitgeroep. “Natuurlik is jy nie Moses nie, maar God is nog dieselfde God,” het die meisie geantwoord. Hulle het uiteindelik by ’n plek van veiligheid uitgekom.
God is die God van wonders. Moses steek sy kierie uit oor die water — ’n “snelweg” deur die see verskyn (Eksodus 14:21). ’n Wonderwerk! Onthou, die God van die Rietsee is dieselfde God van die 21ste eeu. Dis geen wonder nie dat Albert Einstein gesê het: “Daar is net twee maniere om te leef: een manier is asof niks ’n wonderwerk is nie; die ander is asof elke ding ’n wonderwerk is.”
Kom ek en jy word ek-glo-in-wonderwerke-mense deur Einstein se raad te volg: Moenie wag vir skouspelagtige wonders om jou te verras nie. Maak liewer jou oë oop en sien God se wonderwerke in die alledaagse dinge raak.
BID
Bid Psalm 28. Hierdie psalm sê ons moet in moeilike tye fokus op wie God is: Hy is my rots, krag, beskermer en herder (Psalm 28:1, 7-9).
Hierdie oordenkings is geneem uit VAN VREES NA VERTROUE deur Ewald van Rensburg © Christelike Uitgewersmaatskappy. Besoek gerus www.cumbooks.co.za.
Aangaande hierdie leesplan

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us