Van vrees na vertroueVoorbeeld

GOD HOOR, GOD SIEN
"Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: 'Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê'” (Genesis 21:17 NLV).
Daar was ’n ouma wat vir haar kleinseun gevra het: “Bid jy elke aand, my liewe kind?” Haar kleinkind het haar met entoesiasme geantwoord: “O, ja!” Sy vra toe verder: “Elke môre?” Die kleinseun antwoord: “Nee. Ek is nie in die dag bang nie!” Jy glimlag as jy daarna luister, maar ek en jy weet dat ons gebed nog meer gedurende die dag nodig het. Ons voel saam met Isaac Bashevis Singer, ’n Joodse skrywer, as hy sê: “Ek bid net as ek in die moeilikheid is, maar ek is altyd in die moeilikheid; daarom bid ek altyd.”
Nou is ons in die wêreld van Hagar. Kan jy die prent in jou verbeelding sien? Sy is verlate en bang — haar kind lê eenkant en huil. Dit breek haar. Hagar voel soos die slagoffer en dink waarskynlik: "Moet ek nou presies word wat my naam beteken: reisiger? Waar is God? Hoor Hy?" Sy vergeet dat haar seun, Ismael, se naam "God hoor" beteken.
Op ’n dag sien ’n vriend van Phillips Brooks, ’n beroemde predikant uit die 19de eeu, hom ongeduldig rondloop en vra hom wat verkeerd is. “Die probleem is ek is haastig, maar God is nie!” antwoord hy. Daarom was hy baie lief om te sê: “Die moeilikste ding in die lewe is om te sit en wag dat God my inhaal.”
Wag op God, want Hy vergeet nooit van ons nie en Hy help altyd op sy tyd — die regte tyd! Daarom noem Hagar vir God El-Roï. Dit beteken “die God wat my sien”, want sy ontdek Hy sien haar in haar vrees raak. Dis vandag nog net so waar soos destyds met Hagar. Hou vas daaraan. Dit help regtig.
DINK NA
Hoe help God se naam El-Roï jou in tye van vrees, angs, bekommernis en stres? Hoe laat die Godsbeelde in Jesaja 59:1 jou voel?
Aangaande hierdie leesplan

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us