Van vrees na vertroueVoorbeeld

OORKLIM — NIE UITKLIM NIE
"Dit was deur Moses wat die HERE sy magtige en skrikwekkende dade voor die oë van die hele Israel gedoen het" (Deuteronomium 34:12 NLV).
Niemand kry 'n program van die konsert van die lewe nie. Daarom het ons vertroue in God nodig as die lewe nie uitwerk soos ons gedink het nie en ons teleurstelling ervaar.
Sien in jou gedagtes vir Moses op Pisgaberg. Hier leer ons die dieper waarheid van die aard agter teleurstelling, dat die lewe — selfs ’n lewe van geloof — somtyds nie heeltemal sin maak nie. Die Bybel vertel vir ons dat Moses weet sy bediening gaan kort voor die bedoelde bestemming eindig (Deuteronomium 32:48-52). Tog lees ons in die pragtige Deuteronomium 33 dat hy sy laaste oomblikke wy aan lofprysing vir die Here en seën vir die Israeliete. Daarom gee vandag se gedeelte ons tyd om met mekaar oor teleurstelling te gesels en na te dink.
Dink hoe teleurgesteld jy gaan wees as jou trein (van die lewe) êrens op ’n afgeleë plek tot stilstand kom. Uitklim is geen antwoord nie, want dan verskuif jy van moedeloos na troosteloos, maar oorklim is wel! Teleurstelling bring jou by ’n moeilike oorklimplek van die lewe, want dit vereis die hoogste graad van selfverloëning: die erkenning dat jy nie die heer van jou lot is nie. Juis hierin lê ook die krag van die teleurstelling, want slegs hy wat bereid is om homself te verloor, sal homself uiteindelik vind. Dit is die soort vrede wat Moses bo-op Pisgaberg gevind het. God gee ’n soort vrede wat alle verstand te bowe gaan en waar vrees sleg tweede kom.
Want, soos die Deense filosoof Søren Kierkegaard gesê het, hoewel die lewe vorentoe geleef moet word, kan dit net per terugblik verstaan word. Daarvoor het ’n mens vertroue nodig — vertroue en geborgenheid wat gevoed kan word deur in die geloof ’n nuwe koers by die oorklimplek van teleurstelling bo-op jou “Pisgaberg” in te slaan.
DINK NA
Teleurstelling is ’n stasie waar daar ’n koersaanpassing wat jou weer die regte perspektief op die lewe kan gee, gemaak moet word. Wat dink jy is die regte perspektief op die lewe en hoe help dit jou met teleurstelling?
Aangaande hierdie leesplan

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us