Van vrees na vertroueVoorbeeld

Van vrees na vertroue

DAG 4 VAN 7

'n JA-GESIG

"Terwyl Moses nog in Midian was, het die HERE vir hom gesê: 'Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood'” (Eksodus 4:19 NLV).

Moses en sy familie pak in, want God het vir hom die “voorwaarts, mars!”-opdrag na Egipte gegee. As God jou roep, kan jy die reis sonder vrees aanpak, want vertroue in God oorwin vrees.

’n Ou teologieprofessor het altyd gesê: “Ek kyk altyd of my studente groot God-ders of klein God-ders is! Klein God-ders aanbid God op hulle voorwaardes. Groot God-ders aanbid God op sy voorwaardes!”

God kontak nooit die verkeerde nommer nie. Hy soek vir Moses. Ja, ook vir my en vir jou! God verseker ons ons hoef nie bang te wees vir ’n ja-antwoord nie (Eksodus 4:19), want ons kan vashou aan Eksodus 23:20 (Bybel in Afrikaans 2020-vertaling): “Kyk, Ek gaan ’n engel voor jou uit stuur om jou op die pad te beskerm en jou te bring na die plek wat Ek gereedgemaak het.” Dit is een van my gunstelingverse.

Daar is ’n wonderlike storie rondom Thomas Jefferson, ’n VSA-president van lank gelede. Hy en ’n groep metgeselle het te perd deur die land gereis en hulle was genoodsaak om ’n vol rivier oor te steek. Daar was ’n man op die wal van die rivier wat die manne dopgehou het terwyl hulle die rivier een vir een te perd oorsteek. Toe Jefferson verbykom, het hy vir hom gevra of hy hom deur die rivier sal neem. Jefferson het dit sonder huiwering gedoen en hom veilig anderkant gebring.

Een van Jefferson se metgeselle het vir die vreemdeling gevra: “Sê vir my, waarom het jy die president gekies om jou oor te neem en nie vir een van ons nie?” Verbaas het die man geantwoord: “Ek het nie geweet hy is die president nie. Al wat ek weet, is dat sommige gesigte nee sê en ander gesigte ja sê. Hy het ’n ja-gesig gehad!”

God het ’n ja-gesig! Nou verwag Hy van sy kinders om ook ja-gesigte te hê!

DINK NA
Is God vir jou ’n groot God of ’n klein God?

Aangaande hierdie leesplan

Van vrees na vertroue

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us