Van vrees na vertroueVoorbeeld

MOED IS VREES WAT BEGIN BID EN VERTROU HET
"Met sy aankoms daar het die HERE die aand aan hom verskyn en gesê: 'Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën'” (Genesis 26:24 NLV).
Isak is ’n skadufiguur in vergelyking met sy pa Abraham en sy seun Jakob, maar in Genesis 26 lees ons van sekere oomblikke in sy lewe waar hy in helder lig staan.
Isak besluit om sy pa se waterputte wat deur die vyandige Filistyne toegegooi is weer oop te grawe (Genesis 26:18). Oopgemaakte putte het egter 'n baie dieper betekenis en groter waarde as water, want dit verbind almal terug met die geloof van Abraham en gee vir almal hoop vir die toekoms te midde van vrese vir die vyandige Filistyne.
Isak wil met die waterputte presies doen waarvan die beroemde Robert Louis Stevenson praat. As klein seuntjie in die 19de eeu het Robert by die venster van hul huis na die donker straat gestaan en kyk. Toe sien hy die man wat die gaslampe in die straat aan die brand steek en hy sê: “Ek sien iets wonderliks. Daar is ’n man in die straat en hy steek gate in die donkerte!”
Om te midde van vrees en angs gate in die donkerte te druk of soos Isak waterputte te grawe, verg moed. “Gee my ’n bietjie moed!” is waarskynlik Isak se gebed, want hy kan al die Filistyne se reaksie sien. Dan antwoord die Here hom: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën” (Genesis 26:24 NLV). Dit gee vir Isak moed om putte oop te grawe.
Paul Tillich skryf dat geloof die moed is om aan te hou. Die teenoorgestelde van geloof is nie twyfel nie, maar vrees, het Tillich verder geskryf. Moed is net vrees wat begin bid en vertrou het. Dit is wat Isak doen en ons ook moet doen, want God is by ons.
DINK NA
Lees die wonderlike Isak-storie in Genesis 26:16-31. Hoe gee hierdie storie jou moed?
“God is by jou” is soos om “gate in die donkerte te steek”. Wat beteken hierdie versekering vir jou in jou lewe?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us