Van vrees na vertroueVoorbeeld

DIE HERE IS BY JOU
"My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die HERE jou God is saam met jou oral waar jy gaan" (Josua 1:9 NLV).
Teen die einde van my matriekjaar het my geskiedenisonderwyser, meneer Binnedell, vir die hele klas Josua 1:9 vir die pad vorentoe saamgegee. Hy het gesê ons moet onthou dat God saam met ons gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word wanneer ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. Hy het gesê ons moet hierdie vers onthou, want dit gee jou perspektief en moed. Josua 1:9 het ’n spesiale plek in my lewe gekry.
Die evangelie (Goeie Nuus) van Josua 1:1-9 lê egter nou daarin dat God ons nie alleen laat met ons keuses nie. Hy besluit oor ons voor ons oor Hom kan besluit. Hy trek voor Israel uit. Op elke plek waar hulle trap, het Hy klaar getrap en ’n spoor agtergelaat. Hy sal die oorwinning behaal. Al hierdie dinge is vir ons as navolgers van Jesus Christus op ’n dubbele manier waar. Die res van die boek Josua vertel ons hoe God sy woord gehou het.
Ek en jy moet God vertrou. Die ander kant van vertroue is gehoorsaamheid. Jy bewys jou vertroue deur gehoorsaam te wees aan God. Gedurende die verfilming van die epiese Ben-Hur het Charlton Heston probleme gehad om die strydwa te ry. Dit was ’n uiters belangrike toneel soos die fliek bewys het. Heston het gekla: “Ek kan skaars op die strydwa bly, wat nog te sê wen!” William Wyler, die regisseur, het geantwoord: “Jou werk is om bo te bly. Dis my werk om jou te laat wen.” Gehoorsaamheid is om te doen wat God van jou vra en te trap waar Hy trap. Hy sal die res doen.
DINK NA
Josua het sy lewe geleef met die geloof dat God by hom is. Hoe kan jy God se nabyheid soek wanneer Hy vir jou ver voel?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us