Van vrees na vertroueVoorbeeld

Van vrees na vertroue

DAG 3 VAN 7

VREES VIR MENSE MAAK DIT NAG

"Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval ... Daarna het Jakob gebid ..." (Genesis 32:7-9).

Daar is ’n tyd gelede navorsing gedoen oor wat mense gelukkig maak. Hulle het bevind dat dit nie sukses, geld of soortgelyke dinge is nie, maar verhoudings! Sonder verhoudings is dit nag en word ons bang! Wat maak ons meer angstig as slegte verhoudings?

Lank gelede het ’n wyse man vir sy studente gevra wanneer is die nag verby en begin die dag. “Kan dit wees,” het die een student gevra, “wanneer jy ’n dier op ’n afstand kan uitken as ’n skaap of ’n hond?”

“Nee.”

“Kan dit dalk wees,” het ’n ander een gevra, “wanneer jy ’n boom op ’n afstand kan uitken as ’n soort vrugteboom?”

“Nee.”

“Wel, wat is die antwoord dan?”

Die wyse man het toe die volgende antwoord gegee: “Dit is wanneer jy in die gesig van enige vrou en man kyk en sien dat hy of sy jou suster of broer is. Want as jy dit nog nie kan doen nie, bly dit nog nag!”

Dit was nag vir Jakob. Sy slegte verhoudings het hom nou ingehaal. Ja, hy het alle rede gehad om vir Esau bang te wees. Die laaste keer wat hy Esau gesien het, het hy hom uit sy seën verkul (Genesis 27). Net die gedagte aan ’n aankomende Esau het Jakob doodbang gemaak (Genesis 32:11). Daar is geen groter oorlog as ’n verhoudingsoorlog nie, nie waar nie?

Dan doen Jakob die beste ding wat jy kan doen wanneer verhoudings dit nag maak in jou lewe — bid (Genesis 32:9-12). Sy situasie van vrees dryf hom na God. Calvyn het dit iewers raak beskryf: “Die wêreld se dreigemente wat ons met vrees vervul, moet ons dryf na God se beloftes toe.” Intussen het God ook in Esau gewerk. Dit is in sy versoenende optrede te sien (Genesis 33:10). Daarna word dit dag vir Jakob.

Hoe haal 'n mens die vrees uit slegte verhoudings? Doen goed aan ander omdat hulle soos jy is!

BID
Bid Psalm 133. Olie en dou is twee beelde waarin mense ontdek dat hulle deur God vergewe is en mekaar sonder vrees kan liefhê.

Aangaande hierdie leesplan

Van vrees na vertroue

Ewald van Rensburg erken dat ons almal vrese het. Maar hy sê ons moet onthou dat God saam met ons deur die lewe gaan en dat ons nie bang of moedeloos moet word as ons voor moeilike uitdagings te staan kom nie. As jy fokus op wie Hy is, sal jou vrees in vertroue verander. Hierdie 7-dag-leesplan sal jou help om van vrees na vertroue te groei!

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us