Die Mosterdsaad BeginselVoorbeeld

Die Mosterdsaad Beginsel

DAG 4 VAN 7

Volharding en Verborgenheid

God ag getrouheid in klein dinge baie waardevol. Groot werke van God begin dikwels stil-stil en in verborgenheid. Ons moenie ontmoedig word deur 'n klein begin nie. Die probleem is gewoonlik nooit die grootte van die probleem of uitdaging nie. Die vraag is eerder: Kan jy God sien, en is jy in die regte verhouding met Hom?

Die dissipels het na Jesus gekom en gesê: “Here, gee ons meer geloof!” Jesus se antwoord was, vrylik vertaal: “Ek het vir julle reeds ’n mosterdsaadjie-grootte geloof gegee. Gebruik dit.” (Lukas 17:5-6; Afr.1983). God is ’n God van mosterdsaadjies. Hy deel dit uit aan mense wat met nederige harte en oop hande voor Hom staan.

’n Storie: In Indië is daar ’n man wat bekend staan as “The Forest Man.” Sy naam is Jadav Payeng. In 1978 het die 16-jarige Jadav ‘n groot aantal dooie slange op die oewers van die Brahmaputra-rivier ontdek. Hierdie slange is dood as gevolg van hitte. Daar was geen bome of plantegroei wat skaduwee kon gee nie. Hy het raad gaan vra by die mense in ‘n klein dorpie daar naby. Hulle het voorgestel dat hy bome moet plant sodat daar weer skaduwee en lewe kon wees. Wanneer daar skaduwee is, sal die voëls en die slange terugkom.

Hulle het vir hom ’n paar sade en 25 bamboesplante gegee. In April 1979 het Jadav begin om die bamboesplante en die sade te plant. Ses-en-dertig jaar later was daar ’n woud van 1 360 hektaar. Dit beteken hy het gemiddeld elke week ‘n drie-kwart hektaar se plante en sade geplant – amper so groot soos ’n rugbyveld - elke week.

Vandag is daar ’n regte woud met baie plantspesies. Daar is vyf Bengaalse-tiere, honderde wildsbokke, bere, meer as 100 aasvoëls en talle ander voëlspesies. Soms is daar selfs Indiese renosters en olifante te sien.

Sy dag begin om 03:00. Hy ry met ’n fiets na die rivier, roei 5 km met ’n boot, stap ’n halwe kilometer om sy koeie te gaan melk, die stalle skoon te maak en die diere te voer. Ná ontbyt stap hy na sy woud en begin werk – en hou hy aan om die woud te vergroot.

Aangaande hierdie leesplan

Die Mosterdsaad Beginsel

By verskillende geleenthede het Jesus oor die mosterdsaad gepraat. Hy het verskillende aspekte daarvan uitgelig. Daar is baie goeie redes waarom Hy na die mosterdsaad verwys. Baie van ons sukkel wanneer dinge klein en verborge lyk. Ons word geïntimideer deur mense wat praat van groot visie. Ek vertrou dat hier leesplan jou sal help.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com