Die Mosterdsaad BeginselVoorbeeld

Die Mosterdsaad Beginsel

DAG 7 VAN 7

Wag totdat God beweeg

Dink aan die vroeë Christelike kerk. Na Jesus se dood en opstanding was 120 mense in ‘n bovertrek bymekaar. Net meer as 300 jaar later was die Christendom die meerderheidsgodsdiens in die Romeinse Ryk. En dit het plaasgevind gedurende drie eeue van verskriklike vervolging. ’n Onopvallende begin. Elf manne wat die stempel van Jesus op hulle gedra het — mense wat saam met Hom was. Stel jou voor: ‘n dag na die uitstorting van die Heilige Gees of Pinksterdag, vaardig die apostels, vir Petrus en Thomas, af om na keiser Tiberius te gaan en vir hom te sê hulle begin met ‘n veldtog om die Romeinse ryk te evangeliseer en dat binne afsienbare tyd die Christendom die dominante godsdiens sal wees. Wat dink jy sou Tiberius se reaksie gewees het?

Ons leef in ‘n gejaagde samelewing. Die meeste van ons ly aan wat iemand beskryf het as “hurried-sickness.” Gou, haastig, baie en dadelik is die woorde wat vir ons goed werk. God is haastiger as ons, maar ter wille van ons werk Hy stadiger. Een van my vriende sê altyd: “God is Almagtig stadig, maar altyd betyds.”

Vir baie jare het ek in terme van honderde, duisende en miljoene gedink. Ek kan nie vir iemand sê hoeveel planne ek gemaak het sedert ek 53 jaar gelede tot bekering gekom het nie. Ek moet erken dat heelwat minder as een uit elke tien daarvan werklik vrug gedra het. Hoekom? Omdat ek nie kon wag op die Here nie. Ek het baie planne gemaak. Ek wou altyd groot begin en groot doen.

Maar deesdae vra ek net een ding van die Here: “Vader, gee vir my net een mosterdsaadjie. ’n Klein een is reg. Ek weet ek kan nie groot te hanteer nie. En Here, ek gaan nie self na een soek nie. Sal U asseblief vir my een gee?”

Te dikwels is ons nie gereed vir God om ons te gebruik nie. Dikwels is ons so vol van onsself dat ons alles wat ons aanraak, besmet met ons vleeslike optrede en begeertes.

Ons hoor so dikwels mense sê: “Ek wil weet wat God se wil vir my lewe is!” Mag ek voorstel dat ons eers ’n ander gebed bid: “Vader, ek wil U ken.”

Moenie bid vir ’n groot bediening, ’n reuse-impak, of om “groot dinge” in die koninkryk van God te doen nie. Bid eerder: “Vader, hoe kan ek U behaag?” As groot dinge uit daardie verhouding voortvloei, is dit goed.

Aangaande hierdie leesplan

Die Mosterdsaad Beginsel

By verskillende geleenthede het Jesus oor die mosterdsaad gepraat. Hy het verskillende aspekte daarvan uitgelig. Daar is baie goeie redes waarom Hy na die mosterdsaad verwys. Baie van ons sukkel wanneer dinge klein en verborge lyk. Ons word geïntimideer deur mense wat praat van groot visie. Ek vertrou dat hier leesplan jou sal help.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com