Die Mosterdsaad BeginselVoorbeeld

Onopvallend
Baie Christelike werk begin onopvallend. Daar is geen trompetgeskal, groot aankondigings of ‘n buitengewone storie nie. Vir sommige het dit gebeur deur een man te voed, een weeskind te versorg, of een student finansieel te ondersteun. Dit is nie voorbladnuus nie en vir alle praktiese doeleindes onsigbaar, onopvallend – ten minste aanvanklik.
Die Bybel sê: “Toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en besef het dat hulle ongeletterde, eenvoudige mense was, was hulle verwonderd en het hulle erken dat hulle by Jesus was. En omdat hulle die man wat genees is by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie” (Handelinge 4:13–14, Afr.1983).
Onopvallende en onwaarskynlike getuies — maar hulle het die wêreld verander! Nie “movers and shakers” nie – maar vissermanne, ongeletterd en eenvoudig.
Sien jy, dit begin dikwels in “verborgenheid” — wanneer jy alleen saam met Jesus is en wanneer Hy by jou is. Dit lyk dalk soos niks wanneer jy een mosterdsaadjie plant, maar eintlik plant jy ’n groot boom.
'n Storie: Ken jy die naam John Egglen? Waarskynlik nie. Op ’n sneeubedekte Sondagoggend, 6 Januarie 1850, kon die predikant nie by die kerk uitkom nie. As die enigste diaken daardie oggend, het Egglen gevoel dit is sy verantwoordelikheid om in die plek van die predikant op te tree, al het hy totaal onbekwaam gevoel. John Egglen het nog nooit in sy lewe ’n preek gelewer nie.
Hy het opgestaan en die Evangelie gedeel met die 13 mense wat opgedaag het (12 lidmate en een 15-jarige seun). Sy preek was net tien minute lank. Hy het gepreek uit Jesaja 45:22 (Afr.1953): “Wend julle tot My en word gered, alle eindes van die aarde.”
Dit was nie ’n glad gepoleerde preek nie — maar dit het uit sy hart gekom. Aan die einde van sy preek het Egglen na die tienerseun gekyk en gesê: “Jongman, kyk na Jesus Christus. Kyk! Kyk! Kyk nou!”
Charles, die 15-jarige seun, het daardie oggend sy lewe aan Jesus gegee. Daardie seun se naam was Charles Haddon Spurgeon — die man wat byna 3 600 preke gepreek het, 150 boeke gepubliseer het en 63 volumes van sy preke nagelaat het. Hy het miljoene Christene beïnvloed — selfs vandag nog.
Op daardie sneeubedekte Sondag het John Egglen 10 km gestap in die koue om ’n 10-minute boodskap vir net 13 mense te preek. En God het hierdie getroue “noodprediker” gebruik om die beroemde “Prins van Predikers,” Charles Spurgeon, op te rig!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

By verskillende geleenthede het Jesus oor die mosterdsaad gepraat. Hy het verskillende aspekte daarvan uitgelig. Daar is baie goeie redes waarom Hy na die mosterdsaad verwys. Baie van ons sukkel wanneer dinge klein en verborge lyk. Ons word geïntimideer deur mense wat praat van groot visie. Ek vertrou dat hier leesplan jou sal help.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: disciple4.com