Geanker in geloofVoorbeeld

Geanker in geloof

DAG 5 VAN 7

Woestyntye

Die Arabiere, Egiptenaars en Namibiërs het een ding in gemeen. Hulle ken woestyne! Dit is die plekke waar die son altyd skyn. Alles is droog. Woestyne is nie regtig bekend vir lowergroen bome en plantegroei nie.

Volgens ’n Arabiese gesegde is woestyne die gevolg wanneer daar net sonskyn is. Dit is inderdaad die waarheid. Dit geld ook vir ’n mens se geloofslewe. Die woestynmense van ons samelewing kan baie droog word en sonder veel groei of groen oases wees. Dit is meestal mense wat net sonskyn in hulle lewe ken. Ek kom moeilik oor die weg met mense wat net sonskyn ken. Hulle het soms baie min behoefte aan God. Soms is hulle hard en harteloos.

Beproewings, sê Jakobus, behoort ons met vreugde te vul. Dit toets ons geloof, maar laat ons ook groei in geestelike volwassenheid (Jakobus 1:2-4). Ek voel meer tuis by mense wat swaarkry in die lewe ervaar het. As hulle dit as ’n tyd van groei aangryp, ontwikkel hulle harte van deernis en liefde vir God. Hulle is nie so hard en ongenaakbaar soos woestynmense nie. Hulle bied skuiling wanneer ander deur moeilike tye gaan, want hulle ken moeilike tye. Hulle is soos koeltebome in die woestyn.

Mag die Here die reënerige dae in jou lewe gebruik om vir ander ’n oase te ontwikkel waar hulle rus en verkwikking kan vind.

Here, gebruik die beproewinge in my lewe om my te laat groei in volwassenheid. In die Naam van Jesus. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Geanker in geloof

Wat is geloof? Annes Nel wil jou in hierdie 7-dagleesplan herinner dat geloof is om in God te glo wanneer niks sin maak nie. Dit is ’n manier van lewe. Dit is wanneer ons gedagtes, woorde en dade deurspek is met die liefde vir die Here en vir ons medemens. Dit is wanneer ons élke dag in diens van die Here LEEF — sáám met Hom.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us