Geanker in geloofVoorbeeld

Gees van liefde
Die Beatles het lank terug gesing liefde is al wat ons nodig het. Ek kan nie sê dat ek ernstige navorsing hieroor gedoen het nie, maar dit lyk vir my of die meerderheid popliedjies oor liefde gaan. Ons hét liefde nodig!
Dit is egter ook die probleem. Paulus praat nie van liefde wat ons nodig het nie, maar van liefde wat ons moet gee. Natuurlik het ons liefde nodig. Dit is egter ’n selfgesentreerde gedagte. Om liefde te gee kom nie natuurlik nie. Maar om liefde te gee, sê Paulus, is die vrug van geloof. Geloof wat nie in liefde vrug dra nie is geen geloof nie. Geloof en lewe deur die Gees word sigbaar wanneer dit in dade van liefde oorgaan. Deur die Gees van Christus sal liefde vir die Here en vir mekaar dus ons lewenstyl wees.
Ons kry dit egter nie altyd reg nie. Ons maak dikwels foute en twyfel dan of God ons liefhet. Tog hou die Gees as waarborg van God se liefde ons hoop lewend. Hy beklemtoon so dikwels dat Christus ons verlossing is; nie die kwaliteit van ons lewe of ons werke nie: “Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo” (Galasiërs 5:5, NLV). Die Gees herinner ons deurgaans aan hierdie vaste waarborg van ons verlossing. Die Gees hou ons harte brandend vir die dag wanneer God finaal sal verklaar dat ons vrygespreekte mense is.
Dankie, Gees van God, dat U ons daaraan herinner dat ons vrygemaak is. In die Naam van Jesus. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Wat is geloof? Annes Nel wil jou in hierdie 7-dagleesplan herinner dat geloof is om in God te glo wanneer niks sin maak nie. Dit is ’n manier van lewe. Dit is wanneer ons gedagtes, woorde en dade deurspek is met die liefde vir die Here en vir ons medemens. Dit is wanneer ons élke dag in diens van die Here LEEF — sáám met Hom.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us








