Geanker in geloofVoorbeeld

Moenie dit laat inkom nie
Die klein jakkalsies vernietig die wingerd (Hooglied 2:15). Dit het ’n idiomatiese uitdrukking geword om te sê dat die dinge wat ons nie as ’n groot gevaar beskou nie die potensiaal het om baie skade aan te rig. Die brief aan die Hebreërs waarsku dat ons selfvoldaan of selfs onverskillig kan raak oor ons lewenswyse. Ja, dit is waar dat ons ’n getroue God het. Ons onthou met liefde wat God in die verlede gedoen het. Dit dra ons dikwels in moeilike tye.
Tog help dit nie om te dink jy kan die geloofsmarathon op gister se geloof hardloop nie. Daarvoor het jy oefening nodig. Daar is ’n groot kans dat mense wat die geloofsreis begin het die belangrikheid van ’n daaglikse verbintenis om te hoor wat God sê, kan vergeet. Wanneer ons dit vergeet, sluip klein dingetjies en afleidings ons geloofslewe binne. Stadig maar seker kan slegte gewoontes ’n plek in ons lewe begin kry sodat ons uiteindelik nie meer tyd of lus het om die pad saam met die Here te stap nie. Daar is ’n Hongaarse spreekwoord wat lui dat ’n slegte gewoonte eers ’n reisiger is, dan ’n gas en dan die eienaar van die huis.
Die Here vra nie of jy Hom lankal aangeneem het nie. Die vraag is as jy vandag sy stem hoor … wat maak jy daarmee (Hebreërs 3:7, 13-15, 4:7)?
Vader, laat my vandag u stem deur die krag van u Gees hoor. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Wat is geloof? Annes Nel wil jou in hierdie 7-dagleesplan herinner dat geloof is om in God te glo wanneer niks sin maak nie. Dit is ’n manier van lewe. Dit is wanneer ons gedagtes, woorde en dade deurspek is met die liefde vir die Here en vir ons medemens. Dit is wanneer ons élke dag in diens van die Here LEEF — sáám met Hom.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us








