'n Bybelse Perspektief Op Dood en LeweVoorbeeld

'n Bybelse Perspektief Op Dood en Lewe

DAG 5 VAN 9

Wie in Jesus glo, sal nie sterwe nie

"Jesus het vir haar gesê: 'Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?'" (Johannes 11:25-26 AFR20).

Met die eerste oogopslag klink Jesus se woorde vertroostend. As ons 'n bietjie langer hieroor nadink, wonder ons of hulle waar kan wees? Ons weet immers alte goed dat almal een keer sterf, of hy nou in Jesus glo of nie! Is Jesus onbewus van hierdie feit? Is Hy los van 'n harde werklikheid?

Wel, nee, nie presies nie. Hy sê hierdie woorde by die begrafnis van sy vriend Lasarus! Jesus is maar té bewus van die rou werklikheid van die dood. Tog sê Hy hierdie woorde, want die lewe wat Jesus bied, word nie deur liggaamlike dood beperk nie. Hy demonstreer dit deur Lasarus uit die dood op te wek. Selfs gelowiges wat nog nie opgewek is nie, leef voort – in die hemel saam met God. Vir hulle is liggaamlike dood slegs die oorgang van die aardse na die hemelse lewe. Uiteindelik, aan die einde van die tye, sal hulle saam met Jesus op die nuwe aarde lewe. Hierdie lewe duur vir ewig.

Jesus eindig met 'n vraag: "Glo jy dit?" Dit is deurslaggewend. Eers wanneer ons in Hom glo, ontvang ons die ewige lewe. Dus vra ek jou ook dieselfde vraag: Glo jy dat jy die ewige lewe in Jesus kan vind?

Aangaande hierdie leesplan

'n Bybelse Perspektief Op Dood en Lewe

Die dood is deel van die lewe. Of so is ons geneig om te dink. Die Here God het egter die dood oorwin. Hy bied aan ons die ewige lewe. Verbonde aan Hom ervaar ons 'n volheid van lewe in liggaam en siel.

More

Ons wil graag GlobalRize bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: globalrize.org