Leesplan inligting

Ongelyke Juk in die Huwelik: Uitdagings En GeleenthedeVoorbeeld

Unequally Yoked In Marriage: Challenges And Opportunities

DAG 4 VAN 6

OM MET 'N ONGELOWIGE HUWELIKSMAAT SAAM TE LEWE



Miskien is jy 'n Christen wat alreeds getroud is met iemand wat nie vir Jesus Christus as Saligmaker en Here aanvaar het nie. Wat doen jy in so 'n geval? Is dit nog steeds moontlik om met jou huwelik voort te gaan? Hoe kan jy in 'n "ongelyke juk" 'n goeie verhouding hê?



Die antwoord is eenvoudiger as wat jy mag dink. In baie gevalle kom dit daarop neer dat jy jou huweliksmaat behandel soos wat jy 'n gelowige sou behandel. As jy 'n man is, moet jy "jou vrou liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het" (Efesiërs 5:25). Indien jy die vrou is, moet jy jou man se gesag aanvaar as die hoof van die vrou soos Christus hoof is van die kerk (Efesiërs 5:22-23; 1 Petrus 3:1). In werklikheid, omdat jou maat nie 'n Christen is nie, is dit belangrik dat jy vir hom daagliks demonstreer hoe 'n Christen is. Jou doel is om jou maat aangetrokke te laat voel tot 'n verhouding met die Here.



Die apostel Paulus se raad aan die gelowige in die huwelik is om die ekstra myl vir jou huweliksmaat te loop. Jou eerste prioriteit is jou maat se geestelike welsyn. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat jou keuses die geestelike welstand van jou kinders sal affekteer indien julle kinders sou hê (1 Korintiërs 7:14).



Beteken dit dat dit maklik vir jou sal wees om met 'n ongelowige huweliksmaat saam te leef? Beswaarlik. Dit sal moeilik en veeleisend wees. Julle funksioneer in twee verskillende wêrelde. Om aan 'n ongelowige maat jou diepste geestelike insig te probeer verduidelik, is soos om kleur aan 'n persoon wat kleurblind is, te beskryf. Wees dus realisties oor jou situasie. Onthou dat dit nie 'n "preek missie" is nie. Moenie knaend teenoor jou maat wees om "met die Here reg te maak nie". Indien jou maat vir die Here gewen word, sal dit deur jou liefde, respek en stille voorbeeld van ware godsvrug wees.



Volg hierdie paar beginsels:



1. Wees geduldig. Probeer om te onthou dat God jou huweliksmaat liewer het as wat jy ooit kan wees. Hy neem dalk jou maat op 'n geestelike reis waarvan jy niks weet nie. Hy mag kies om jou in die proses te gebruik, maar Hy het nie jou hulp nodig nie. Moenie die rol van die Heilige Gees probeer vertolk nie. Bly in gebed en vertrou die Here om te doen wat Hy wil doen.



2. Moenie 'n struikelblok wees nie. Alhoewel volmaaktheid nie moontlik of nodig is nie, kan jou gedrag jou huweliksmaat aantrek of afstoot wat geestelike dinge betref. Is die lewe wat jy voluit met God leef aantreklik? Maak jou verhouding met Christus van jou 'n meer genotvolle mens om by te wees of bloot 'n meer godsdienstige een?



3. Wees opreg. Jy moet nie net jou geloof met jou huweliksmaat deel nie maar ook jou bekommernisse. Met ander woorde, moenie bang wees om jou persoonlike swakhede te openbaar nie. Dit sal skynheilig wees om voor te gee dat jy nie bekommerd is nie wanneer jy wel is, of dat jy nie twyfel nie wanneer jy wel oor iets twyfel. Jou deursigtigheid kan helend wees indien jou maat voel — reg of verkeerd — dat geestelikheid 'n bron van wedywering in die huwelik geword het. Die maat wat 'n stryd met geloofskwessies het, het 'n "veilige" en vriendelike maat nodig om na die huis toe te kom. 'n Heilige houding sal net verdeeldheid verdiep — nie net tussen jou en jou maat nie, maar ook tussen jou maat en God.



4. Bly gebalanseerd. Daar is geen twyfel oor die belangrikheid van geloof nie. Dit is egter moontlik om jou gesonde siening te verloor wanneer jy bekommerd is oor jou huweliksmaat se geestelike welsyn. Jy kan nooit té toegewyd aan Christus wees nie, maar om geestelikheid en godsdienstigheid te oordoen, sal jou pogings kniehalter net soos onverskilligheid sal doen.



5. Ondersoek die redes. Staan tyd af om te ondersoek en te verstaan wat die onderliggende redes vir jou huweliksmaat se skeptisisme is. Wat was jou maat se geestelike ondervindinge as kind? Is jou maat se geloof gekoester of verhinder? Was die geloof van jou maat se ouers opreg en betekenisvol of 'n skynheilige las? Die Bybel is duidelik: "Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie" (Matteus 7:1). In die huwelik is ons partykeer geneig om te oordeel na aanleiding van wat ons van ons maat weet — of dink ons weet. Slegs God kan die individu se hart sien.
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Unequally Yoked In Marriage: Challenges And Opportunities

Om getroud te wees met iemand wat nie jou geloof in Jesus Christus deel nie, is nie 'n maklike saak nie. Om nie saam te stem oor sjokolade en vanielje nie, is dalk 'n spoedhobbel. Daarenteen, om nie saam te stem oor wêre...

More

Ons wil Focus on the Family bedank wat hierdie leesplan verskaf het. Vir verdere inligting, besoek asseblief: http://family.custhelp.com/app/home

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid