Vreugde! Vir Jou Wêreld! 'n Aftelling tot Kersfees

Bybeldagboek
Dit is Kersfees!



Kom ons reis na Betlehem en verken die Kersverhaal soos dit in die Bybel voorkom. Hierdie geskiedkundige weergawe van die geboorte van Jesus het nie in Betlehem of selfs in Nasaret begin nie...maar by 'n ouerige paartjie wat geweet het hoe vervullend 'n lewe kan wees wat aan God toegewy is.



Die Bybel beskryf Elisabet en Sagaria op 'n baie mooi manier: "En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel." - Lukas 1:6



Elisabet en Sagaria was al baie lank getroud, maar het nog geen kinders gehad nie. Dit moes baie hartverskeurend gewees het vir hierdie priester en sy vrou, maar die Bybel sê dat hulle aangehou het om onberispelik te wandel, in elke aspek van hulle verhouding met die Here.



Hoe reageer jy op teleurstelling? Gebruik jy dit as 'n verskoning om jou ontevredenheid of vergryp te regverdig? Alhoewel Elisabet en Sagaria se arms leeg was, en hulle hoop verpletter, het hulle aangehou om God ten volle te dien soos die jare aangestap het.



Die Bybel sê dat die vurige gebed van 'n regverdige groot krag het! (Jakobus 5:16) As jy aanhou om regverdig te lewe ... en aanhou bid ... sal jou gebede beantwoord word.



Die Bybel sê ook dat die regverdige uit die geloof sal lewe. (Hebreërs 10:38) Elisabet en Sagaria het nog steeds deur geloof, en nie deur aanskouing, gewandel nie. (2 Kor 5:7)



Elisabet se naam beteken "God is my Eed". Elisabet het God se beloftes bly glo, lank nadat ander uit frustrasie al sou moed opgee. Sy het geglo dat God na haar gebede luister terwyl haar vriendinne met hulle babas gespog het en jare later hulle kleinkinders aan die slaap gesus het.



Ek vertrou dat hierdie Kersverhaal jou sal leer om geduldig te wees met God. Bly vertrou op God, al is jou omstandighede moeilik. Hou aan om 'n regverdige lewe te lei, ten spyte van teleurstellende dae. Bid vurig en glo dat God na jou gebede luister. Hou aan om 'n positiewe gesindheid te handhaaf, al kry jy nie jou sin nie.



Laat die mooi gesindheid van Elisabet jou herinner dat ware gelowiges deur geloof ,en nie deur aanskouing, lewe nie.