RomeineVoorbeeld

Gee Aandag Aan Die Skrif
"... want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word" — Romeine 10:13.
Wat beteken dit om "die Naam van die Here aan te roep"? Is dit nie wat die Jode reeds sedert die Ou Testamentiese tye gedoen het nie? Hoekom moes Paulus dan vir hul verlossing bid? (Romeine 10:1).
Tog getuig Paulus self van die Jode se ywer vir God (Romeine 10:2). Hulle was trots daarop om God se uitverkore volk te wees. Dit was vir hulle belangrik om die wet te onderhou aangesien dit vir hulle gegee is as teken dat hulle God se volk is. Paulus beweer egter dat hulle ywer "sonder die regte insig" is (Romeine 10:2). Hulle was nie meer gesinchroniseer met wat God in die wêreld om hulle gedoen het nie. Hulle het gedink verlossing was slegs vir die Jode bedoel. Om dus 'n Jood te wees, was genoeg om gered te word. Selfs die Jode wat Christene geword het, het weerstand gebied teen die idee dat heidene gered kon word sonder om eers Jode te word. Paulus sê dan in Romeine 10:3 hulle "steur hulle nie aan die manier waarop God mense vryspreek nie" en probeer hul eie vorm van geregtigheid vestig.
Die ironie is egter, as hulle hul eie Skrif waarlik geken het, sou hulle Jesus as die beloofde Messias herken het. In plaas daarvan verwerp hulle Hom omdat Hy nie in hul vooropgestelde idee ingepas het van hoe die Messias moes wees nie. Hulle wou 'n koning soos Dawid gehad het, ondanks Jesaja se profesieë dat die Messias sou ly. Net so wou hulle hê God se koninkryk moes uitsluitlik vir hulle wees, nieteenstaande die profesieë dat heidene ook ingesluit sou word. Hulle het verwag om hul status as God se uitverkore volk te behou, al is hulle deur Moses gewaarsku dat rebellie teen God hulle hierdie status sal laat verloor.
Dit kom miskien vir ons verstommend voor dat hulle soveel aanwysings na Jesus in die Skrif misgekyk het, maar gee ons voldoende aandag aan die Skrif? Ons lees in Matteus 18:21-35, dat ons slegs vergifnis sal ontvang as ons bereid is om te vergewe, maar koester ons nog wrokke wat ons toegang tot God se koninkryk in gedrang bring? Ons lees in Matteus 16:24 dat, om Jesus te volg, ons onsself moet verloën, maar jaag ons ons eie ambisies na en maak steeds aanspraak daarop dat ons Hom volg? Ons lees die poort wat na die lewe lei is nou (Matteus 7:13-14), maar probeer ons dit wyer maak deur die kerk meer soos die wêreld te verander om meer mense te lok? As ons op enige stadium dink iets is te onprakties of te idealisties of te onmoontlik om te gehoorsaam en dat ons dit dus met gerustheid kan ignoreer, is ons daaraan skuldig om ons eie geregtigheid te vestig eerder as om ons aan God se geregtigheid te onderwerp.
Dit is maklik om dele van die Skrif wat ons ongemaklik maak net oor te slaan terwyl ons dink God is tog genadig en sal ons oorsien dat ons in hierdie gedeelte ons eie koppe volg. Om egter werklik die Naam van die Here aan te roep, beteken om ons aan God te onderwerp as Here in alle gedeeltes van ons lewens. Soos Jesus in Matteus 7:21 dit stel: "Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is."
Is jou geloof teoreties, of iets wat jy elke dag uitleef?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan sal jou met ʼn hoofstuk per dag deur Romeine lei. Elke dag sal gepaardgaan met ʼn meditasie oor een van die verse in daardie dag se hoofstuk. Hulle behandel onderwerpe soos geloof, hoe om reg te leef en eensgesindheid in die kerk.
More