RomeineVoorbeeld

Moenie 'n Struikelblok Wees Nie
"Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein" — Romeine 14:14.
Hoe reageer ons wanneer ons iemand teëkom wie se besware vir ons laf voorkom? Miskien dink hulle dit is verkeerd om na rolprente te kyk of na wêreldse musiek te luister of om alkohol te drink. Terg ons so iemand, stry ons met die persoon of plaas ons druk op die persoon om teen sy of haar oortuigings te doen wat ons wil hê? 'n Geheelonthouer het my eenmaal vertel sy word meer deur haar Christenvriende daaroor gespot as haar ander vriende.
Waarom plaas ons druk op mense om teen hul oortuigings op te tree? Dalk dink ons dat ons sulke mense van hul sinnelose beperkings bevry. Alhoewel dit miskien vir ons doodreg mag wees om die dinge te doen wat ander pla, sê Paulus ons doen skade wanneer ons druk op ander uitoefen om soos ons op te tree. Trouens, hy beweer ons doen afbreuk aan die werk van God in hul lewens (Romeine 14:20).
Hoe is dit dan dat iets vir een persoon reg kan wees, maar vir 'n ander verkeerd? Dit is omdat die Christendom nie uit 'n stel reëls bestaan wat gevolg moet word nie, maar uit 'n verhouding met Christus wat ons lei om Hom bo alles te behaag. Wanneer ons, regtens of verkeerdelik dink iets behaag Hom nie, maar tog daarmee voortgaan, is dit 'n sonde omdat ons dan optree om iemand anders as Christus te behaag.
"Dit is waarskynlik belangriker dat ons getrou aan ons oortuigings moet wees, of ons oortuigings reg is of nie. Ons moet nie dinge doen bloot omdat ander dit doen nie, ook moet ons nie ander dwing om dinge te doen bloot omdat ons daarmee tevrede is nie" (Dave Tomlinson, “The Post Evangelical").
Ons moet dus onderskeid tref tussen opdragte wat God gee en ons eie menings. Opdragte wat God aan ons gegee het, moet deur almal gehoorsaam word. Tog moet ons nie ons menings oor wat aanvaarbaar is of nie, op ander afdwing nie. Ons moet elkeen lewe soos ons dink ons God behaag, want wat nie uit geloofsoortuiging gedoen word nie, is sonde (Romeine 14:23).
Hoe reageer jy op die besware van ander?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan sal jou met ʼn hoofstuk per dag deur Romeine lei. Elke dag sal gepaardgaan met ʼn meditasie oor een van die verse in daardie dag se hoofstuk. Hulle behandel onderwerpe soos geloof, hoe om reg te leef en eensgesindheid in die kerk.
More