RomeineVoorbeeld

Romans

DAG 13 VAN 16

Wees Lief Vir Mekaar

"Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit" — Romeine 13:8.

Elke Christen is hier op aarde 'n verteenwoordiger van die liefde van God. Ons liefde vir mekaar is nie 'n uitruiling waardeur ons terugbetaal vir wat ons ontvang het nie, maar eerder 'n voortdurende skuld. Dit beteken ons moet aktief na geleenthede soek om aan ons liefde uitdrukking te gee. Hoe moet ons dit doen? Ons kan voorstelle in Romeine 12 kry: 

"Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld" (Romeine 12:10). — Het jy al opgelet hoe geneig ons is om almal met onsself te vergelyk en hulle dan te veroordeel as hulle keuses maak wat ons nie sou maak nie? Hoe hulle hul kinders grootmaak, die klere wat hulle dra, hul finansiële besluite en so kan ons aangaan. Wanneer ons eerbied teenoor mekaar bewys, sal ons mekaar nie langer oor nietighede veroordeel nie, maar met wedersydse respek teenoor mekaar lewe. 

"Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid" (Romeine 12:13). — Ons moet op die uitkyk wees vir die behoeftes om ons. Hierdie behoeftes is nie noodwendig altyd finansieel nie. Ons kan ons Godgegewe vaardighede inspan om 'n maaltyd te verskaf, kinders op te pas of iemand te help om vir 'n eksamen of onderhoud voor te berei. Wanneer ons gasvryheid beoefen, sal ons oop huise hê en ons dagboeke sal aanpasbaar wees. Wat dit van ons verg, is gewilligheid om ons planne vir die dag eenkant te skuif wanneer iemand op ons tyd aanspraak maak. 

"Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur" (Romeine 12:15). — Ons bewys liefde wanneer ons tyd met mense deurbring om in hulle vreugde en droefheid te deel. Sluit by mense aan om verjaarsdae, troues of 'n nuwe huis te vier. Besoek gesinne wat 'n geliefde verloor het of 'n moeilike diagnose moet verwerk. Dit gee aan ons die geleentheid om raak te sien waar ons in hulle moeilike tyd hulp kan verleen.

"Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie" (Romeine 12:16). — Saam met wie bring ons tyd deur? Ons voel aangetrokke tot mense wat soos ons is of dié wat gewoonlik gewild is. Paulus sê egter ons behoort gewillig te wees om met mense van 'n lae stand om te gaan. Nie slegs die gewildes nie, maar ook die sosiaal onbeholpenes en diegene in wie niemand anders klaarblyklik belang stel nie. Die liefde van God tref nie onderskeid nie.

"Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie" (Romeine 12:21). — Beteken dit dus deur aktief daarop uit te wees om liefde te betoon, dat ons ook altyd geliefd sal wees en 'n warm ontvangs sal kry? Geheel en al nie! In hierdie gevalle wêreld sal ons seerkry en misverstaan word. Wanneer ons seerkry, haal ons diep asem en reageer met liefde, nie woede nie. Ons oorwin die kwaad deur die goeie.

Hoe gaan jy vandag aan die liefde van God uitdrukking gee?

Aangaande hierdie leesplan

Romans

Hierdie leesplan sal jou met ʼn hoofstuk per dag deur Romeine lei. Elke dag sal gepaardgaan met ʼn meditasie oor een van die verse in daardie dag se hoofstuk. Hulle behandel onderwerpe soos geloof, hoe om reg te leef en eensgesindheid in die kerk.

More

Ons wil graag vir Flat Fish, wat hierdie leesplan verskaf het, bedank. Vir meer inligting, besoek gerus: https://courageousmagazine.com