Leesplan inligting

Nuwe LeweVoorbeeld

Nuwe Lewe

DAG 7 VAN 12

JOU NUWE LEWE


Noudat jy jou lewe vir die Here gegee het, het die volgende met jou gebeur: 


1) Die Gees van die Lewende God het in jou kom woon. 


“Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.” (1 Kor. 6:17) 


“Wie in die Seun van God glo het die getuienis in homself.” (1 Joh. 5:10) 


“In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.” (Efes. 1:13b) 


2) Die Heilige Gees is nou jou Leermeester. 


Omdat jy nou geestelik kan sien en hoor, gaan die Heilige Gees jou in al die waarhede van die Woord van God inlei, soos jy Hom toelaat. Vra Hom om jou elke keer wanneer jy jou Bybel lees te help . 


“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” (Joh. 16:13) 


Paulus bid en sê: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou.” (Efes. 1:18) 


3) Jy is so pas uit die mag van die duisternis verlos en jy is oorgebring in 'n liefdeskoninkryk waar Jesus regeer. 


Jesus het nou die bestuur van jou lewe oorgeneem en Hy gaan dit in liefde doen. Dit beteken dat Hy nie gedurig by jou gaan fout soek nie, maar dat Hy jou in liefde gaan help om in volle oorwinning oor al die mag van die vyand te heers. 


“Hy (Jesus) wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” (Kol. 1:13) 


4) Jou ou "hart van klip" is verwyder. Jy het as't ware 'n hartoorplanting gehad. Jou nuwe natuur wíl nou God behaag


“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee; en 'n nuwe gees in jul binneste gee, en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel (volgens my voorskrifte leef) (...en my bepalings gehoorsaam en nakom - AFR83) en my verordeninge hou en doen.” (Eseg. 36:26-27) 


5) Jy ervaar vrede tussen jou en God. 


“God het ons dan nou vrygemaak omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Rom. 5:1) 


“...en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit weer dink nie.” (Heb. 10:17) 


God dink nie aan jou verlede nie en daarom is daar vrede tussen jou en Hom... is dit nie wonderlik nie! 


6) Jy ervaar 'n innerlike reinheid. 


“...aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sonde gewas het in sy bloed.” (Openb. 1:5b) 


“So ver as die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Ps. 103:12) 


“Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.” (Miga 7:19) 


7) Jy kan en sal ervaar dat ou dinge (lelike en slegte dinge soos slegte gewoontes en sondige begeertes) van jou begin afval. 


“Daarom as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Kor. 5:17) 


“...maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Rom. 8:13b) 


8) Jy kry 'n nuwe stel waardes. 


“Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.” (Fil. 3:7)


9) Jy is nou deel van 'n nuwe gesin. 


“God laat die eensames woon in 'n huisgesin.” (Ps. 68:7) 


God plaas jou nou in 'n geestelike huisgesin en in 'n geestelike familie. 


Jy moet dus: 



  • by 'n gemeente inskakel 

  • by 'n dissipelskap- of 'n selgroep in jou woongebied inskakel. 


“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan.” (Heb. 10:25) 


“En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek.” (Hand. 2:46) 


10) God is nou jou Hemelse Vader en jy kan daagliks met Hom praat soos wat 'n aardse kind met sy Vader praat. 


Onse Vader...”, 'n model-gebed (Matt. 6:9-13); 'n manier om daagliks met God te praat. 


“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep Abba Vader (liewe hemelse Pappa)!” (Rom. 8:15) 


11) Jy is nou 'n ligbewoner. Duisternis het nie meer 'n plek in jou lewe nie. 


“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap (“fellowship”) met mekaar, en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Joh. 1:7) 


Lig het verhelderende mag. Dit is nodig dat dit wat jy vroeër in die duisternis gedoen en weggesteek het, nou na die lig gebring moet word. Wanneer jy dit doen, werk die bloed van Jesus om die mag wat die sonde oor jou gehad het, te verbreek. 


“En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.” (Joh. 3:19-21) 


“So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” (Joh. 12:36a) 


God is lig en geen duisternis is in Hom nie.” (1 Joh. 1:5b) 


Geloof in God se lig, wat verhelderende mag het, sal jou help om enige vorm van duisternis in jou lewe te oorwin. Eenvoudig gestel: wanneer jy sê wat God sê, sal jy vind dat die Woord van God wat lig is, die duisternis in jou lewe verdryf. 


12) Jy is nou een van God se Ambassadeurs (Verteenwoordigers). 


Jy moet nou wat God vir jou gedoen het met ander deel (getuig), sodat Hy dit ook vir hulle kan doen. Onthou, jou mond én jou lewe moet getuig van wat met jou gebeur het. 


“Die boodskap van versoening ('n herstelde verhouding met God) bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.” (2 Kor. 5:19) 


Vers 20 sê dat ons deur woord en daad moet getuig van God se nuwe geeslewe wat ons nou net deelagtig geword het. My optrede moet Jesus in alles uitbeeld. 


ONTHOU DIE VOLGENDE: 



  • Niemand beland “per toeval” in die hemel nie. 

  • 'n “Goeie lewe” red jou nie. 

  • Gelowige ouers is nie 'n sleutel tot die ewige lewe nie. 

  • 'n Persoon sterf net een maal; daar is nié 'n tweede kans nie! 


“'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.” (Heb. 9:27) 

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Nuwe Lewe

Het jy al gewonder wat dit beteken om ‘n Christen te wees? Hierdie leesplan is ideaal vir diegene wat Jesus op ‘n lewensveranderende manier wil ontmoet en op soek is na antwoorde op die moeilike vrae waarmee hulle worste...

More

Ons wil Lewende Woord bedank vir hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://lewendewoord.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid