Leesplan inligting

Nuwe LeweVoorbeeld

Nuwe Lewe

DAG 11 VAN 12

TWEE PRAKTIESE MANIERE OM DIE DOPING IN DIE HEILIGE GEES TE ONTVANG: 


Die doping in die Heilige Gees kan op twee maniere ontvang word: 



  • deur geloof en handoplegging; of 

  • deur 'n gebed van geloof op jou eie.      


1) HANDOPLEGGING 


Handoplegging in Samaria deur Petrus en Johannes: 


“Filippus het in Samaria die evangelie aangaande die koninkryk van God gaan verkondig en mense het tot geloof in Jesus Christus gekom en is gedoop, manne sowel as vroue.” (Hand. 8:12) “Die apostels in Jerusalem het gehoor dat Samaria die woord van God aangeneem het en hulle het Petrus en Johannes na Samaria toe gestuur om vir die nuwe gelowiges die hande op te lê, sodat hulle die doping in die Heilige Gees kan ontvang en deur handoplegging het hulle dit ontvang.” (Hand. 8:14-17) 


Handoplegging in Efese deur Paulus: 


“En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.” (Hand. 19:6) 


2) DEUR GELOOF, OP JOU EIE 


“En toe Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woorde geluister het. Toe die Joodse gelowiges hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik om God te prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie.” (Hand. 10:44-46) 


WAT SAL GEBEUR AS DIE HERE JESUS MY IN DIE HEILIGE GEES DOOP? 


Indien jy dit glo sal jy in ander tale begin praat! Die volgende wondertekens sal voorkom by die wat glo: 


“In ander tale sal hulle praat...” (Mark. 16:17) 


“Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand. 2:4) 


“Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik.”  (Hand. 19:6) 


SPREEK ALMAL IN ANDER TALE? 


Daar is 'n verskil tussen die doping in die Heilige Gees en die verskillende bedieninge van geestelike gawes in 'n gemeente. 


“En God het sommige (bedieninge) in die gemeente gestel.” (1 Kor. 12:28-31) 


Almal kan die doping in die Heilige Gees ontvang, maar nie almal kan in ander tale in 'n gemeente- of selgroepbyeenkoms bedien nie. Dit is dus vir “sommige” om 'n boodskap van God in 'n vreemde taal aan die gemeente te bring, soos die Heilige Gees wil (1 Kor. 12:11). Jou gebedstaal in ongewone tale of klanke is anders; dis jou persoonlike kommunikasie met God. (1 Kor. 14:2)  


Jy is nou gereed om die doping in die Heilige Gees te ontvang. 


Onthou net die volgende: 



  • Dit is 'n geskenk ('n gawe) van God; jy kan dit nie verdien nie. (Hand. 8:20) 

  • Omdat dit 'n geskenk is, kan jy net daarvoor glo soos die Skrif  sê. 


Bely die volgende met jou naam daarin: 


“Die volgende wondertekens sal voorkom by (plaas jou naam hierin) wat glo: in Jesus se naam sal (jou naam) in ander tale praat.” 


Bly dít sê wat die Woord sê totdat geloof kom! Hou aan met jouself hardop die Woord te praat totdat geloof kom. (Rom. 10:8, 17) 


Baie belangrik: 


Glo dat jou Hemelse Vader die Heilige Gees vir jou wil gee wanneer jy Hom vra. 


“Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee - die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir die wat vra.” (Luk. 11:11-13) 


Jy is nou gereed! 


Vra vir iemand wat jy vertrou om vir jou hande op te lê en vir jou te bid vir die Heilige Gees-doop, of bid self die volgende gebed: 


GEBED:  


“Vader, ek vra U nou in Jesus Naam om my te doop in die Heilige Gees. Jesus, ek weet U is die Doper in die Heilige Gees (Joh. 1:33) en dat dit 'n geskenk is. In geloof steek ek nou my hande na U toe uit om hierdie geskenk te ontvang en in geloof ontvang ek dit nou. Amen.” 


1. Sien met jou geestesoë hoe jy die geskenk ontvang en glo dit! 


2. Sien hoe daar 'n opwelling van strome van lewende water in jou binneste begin en by jou mond uitvloei. 


“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.”  (Joh. 7:38-39) 


“Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand. 2:4) c. 


3. Maak nou jou mond oop en begin in ander tale spreek


4. Onthou, jy kan die woorde nie uitdink nie, want die woorde sal uit jou gees (van die Heilige Gees) afkomstig wees. Die Heilige Gees sal jou stembande, jou mond en jou lippe gebruik. 


5. In die begin mag daar net een of twee woorde wees. Hou aan om die woorde uit te spreek, totdat die strome klanke uit jou binneste uitvloei. 


WAT NOU, NOUDAT EK DIE DOPING IN DIE HEILIGE GEES ONTVANG HET?


i. Bou jouself op in jou allerheiligste geloof.  “Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.” (Judas 20)


ii. Hou aan om met God in jou Heilige Gees taal te praat. “Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God.” (1 Kor. 14:2) 


iii. Wanneer jy nie weet wat om te bid nie, bid in jou Heilige Gees taal en die Heilige Gees sal jou swakheid te hulp kom. (Rom. 8:26-27) 


iv. Bid in jou gewone taal en ook in jou Heilige Gees taal. (1 Kor. 14:14-15) 


As jy die doping in die Heilige Gees gevra het, glo en bely dat jy dit ontvang het! 


Die tale sal kom as jy aan jou belydenis vashou. 


VRAE OM OOR NA TE DINK/ TE BESPREEK MET JOU GROEPLEIER: 



  1. Wanneer het die Heilige Gees in jou kom woon? 

  2. Vir wie is die gawe van die Heilige Gees, volgens Handelinge 2:39? 

  3. Wat is die verskil tussen die Heilige Gees “in” jou en die Heilige Gees “oor” of “op” jou? 

  4. Wat kan ons weerhou daarvan om die doping in die Heilige Gees te ontvang? 

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Nuwe Lewe

Het jy al gewonder wat dit beteken om ‘n Christen te wees? Hierdie leesplan is ideaal vir diegene wat Jesus op ‘n lewensveranderende manier wil ontmoet en op soek is na antwoorde op die moeilike vrae waarmee hulle worste...

More

Ons wil Lewende Woord bedank vir hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://lewendewoord.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid