Leesplan inligting

Trapklippe Na ShalomVoorbeeld

Stepping Stones To Shalom

DAG 6 VAN 12

Kies Vrede bo Trots


Ek het eenmaal 'n grap gehoor van 'n man en vrou wat nie met mekaar gepraat het nie. Die man was in 'n verknorsing, want hy het sy vrou nodig gehad om hom die volgende oggend teen vyf-uur wakker te maak sodat hy 'n vroegoggend vlug kon haal. Hy wou nie die eerste een wees om toe te gee nie, en skryf dus vir haar 'n nota: "Maak my asseblief vyf-uur wakker" en sit die nota op haar kussing. Die volgende oggend skrik hy sewe-uur wakker. "Waarom het jy my nie wakker gemaak nie?" skree die man op sy vrou. "Ek het!" antwoord sy en wys na 'n stukkie papier langs hom. Daarop het gestaan: "Staan op!"



Ons kan hieroor lag, maar die hartseer waarheid is dat so baie verhoudinge seerkry weens ons behoefte om ons trots en eer te behou. 



In Numeri 5:23-28 lees ons van 'n rituele prosedure wat uitgevoer is wanneer vermoed word dat 'n vrou ontrou was. As deel van die proses, is God se naam op 'n stukkie papier geskryf en afgewas in bitter water wat die vrou dan moes drink. As niks met haar gebeur nadat sy die water gedrink het nie, word sy van alle blaam onthef en die huwelik weer herstel. Die rabbi's beklemtoon met hierdie ritueel hoe hoog God die waarde van shalom in die huis aanslaan — Hy is selfs bereid om sy eie eer op te offer deur sy Naam wat afgewas kan word om sodoende harmonie te herstel.



Die Joodse wysgere vertel 'n verhaal van 'n vrou wat een Vrydagaand laat by die huis aangekom het. Haar kwaai man vra toe: "Waar was jy?" Sy antwoord: "Ek het by die sinagoge 'n lesing deur Rabbi Meir bygewoon." Die jaloerse man antwoord: "Moenie terugkom voor jy nie in Rabbi Meir se gesig gespoeg het nie." Die vrou het nie geweet wat om te doen nie en gaan toe maar terug na die sinagoge om daar te bid.



Intussen het die gees van Elia vir Rabbi Meir besoek en hom vertel wat tussen die man en vrou gebeur het. Elia sê toe: "Deur jou is daar geen vrede in daardie huis nie." Toe die vrou by die sinagoge aankom, maak Rabbi Meir of daar 'n probleem met sy oog is. Hy vra die vrou toe: "Spoeg asseblief in my oog — dis die enigste oplossing." Die vrou maak so en gaan toe verlig weg.



Nadat sy weg is, vra Rabbi Meir se studente hom: "Hoe kon jy toelaat dat jy so onteer word?" Die rabbi antwoord: "As God sy eer kan laat verminder ter wille van harmonie in die huis, kan ek ook."



Vriende, as God sy eer ter wille van shalom kan laat verminder, kan ons ook. Ons kan eerste wees om te praat en eerste om te sê "Ek is jammer." Soms is die groter persoon die een wat weet hoe om homself klein te maak. Dit is in nederigheid wat ons ware eer vind, of soos ons in Spreuke lees: "Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy" (Spreuke 20:3).



Trapklip 6: Laat vaar jou trots. Staan 'n paar oomblikke af om aan jou verhoudings te dink en let op of daar trots ter sprake kom wanneer daar 'n tekort aan shalom tussen jou en die ander persoon is. Indien wel, dink na watter stappe jy kan doen om ter wille van vrede jou trots agter te laat. Doen nou een daarvan en kyk hoe dit jou verhouding verander.


Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Stepping Stones To Shalom

In Judaïsme is die woord vrede — shalom — in die Hebreeuse woord shalem gegrond, wat "heel" of "voltooi" beteken. Ware shalom beteken dus dat verskillende partye doelbewus hul verskille eenkant toe skuif en ooreenkom om ...

More

Ons wil graag vir "International Fellowship of Christians and Jews" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek: http://www.ShalomStudy.online

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid