Rick Warren se Daaglikse OordenkingsVoorbeeld

Doen iets daaromtrent
Een manier om jou lotsbestemming te ontdek, is om die behoeftes van jou hart te identifiseer. Wat ontstel jou? Wat veroorsaak dat jy dink: "Iemand moet iets hieromtrent doen"?
Wat dit ook al is, dit is die sleutel tot jou lotsbestemming. My vrou, Kay, noem dit om ernstig verontrus te wees. Dit ontstel jou so baie dat dit jou inspireer om iets te doen.
Ester se kamerpersoneel, byvoorbeeld, het haar vertel dat haar oom, Mordegai, gerou het oor Haman se komplot (en die koning se daaropvolgende bevel) om al die Jode dood te maak. Sy was baie ontsteld toe sy gehoor het wat Mordegai doen. Sy het waarskynlik besef dat baie mense sou sterf as sy nie iets daaromtrent doen nie.
Is daar enigiets wat jou pla, of is jou lewe so geïsoleer dat daar niks is wat jou dryf om te sê: "Iemand moet iets daaromtrent doen" nie?
Saddleback Kerk het in Amerika die leiding geneem in die stryd teen VIGS nadat Kay 'n artikel in die "Newsweek" gelees het dat VIGS 14 miljoen kinders wees gelaat het en dit het haar ten diepste ontstel.
Sy was nie alleen hierin nie. In ons kerk is daar nou meer as 300 bedieninge wat deur gemeentelede begin is wat 'n probleem, 'n nood, 'n seer of 'n onreg raakgesien het en besluit het om iets daaromtrent te doen.
Hier is 'n taak vir jou: Maak 'n lys van die behoeftes wat jy raaksien en jou ontstel. Bid en vra God dan om vir jou te wys hoe jy jou gawes kan gebruik om 'n verskil te maak.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Weet jy waarvoor God jou geskep het? Weet jy wat God se doel vir jou lewe is? Indien jy nie die antwoorde op hierdie vrae ken nie, mag jy dalk die volgende 10 jaar van jou lewe net bestaan, in plaas daarvan om 'n dekade van geestelike groei te beleef waar dit vir jou moontlik sal wees om te doen waarvoor God jou geroep het. Rick Warren se oordenkings sal jou help om te groei in die areas waar God wil hê jy moet groei: geestelik, finansieel, emosioneel, menseverhoudinge en fisiek. Hulle bied praktiese stappe om God se doelwitte vir jou te bereik, terwyl jy Jesus na jou lotsbestemming volg.
More