Leesplan inligting

Uitgekies: Herinner Jouself Elke Dag Aan Die EvangelieVoorbeeld

Chosen: Remind Yourself Of The Gospel Everyday

DAG 2 VAN 7

My vriend Ryan vertel vir my 'n storie van 'n man genaamd mnr. Bi, wat 'n professor aan die Beijing Universiteit, bekend as "die Harvard van China" was. Hy het 'n grappie in die klas gemaak oor die Kommunistiese Party. Een van sy studente het hom daaroor by die polisie gaan verkla. Die volgende dag bars die polisie by mnr. Bi se kantoor in en neem hom sonder waarskuwing of 'n verhoor na 'n verafgeleë, koue, kommunistiese tronk.



Daardie oggend het hy wakker geword as 'n professor in een van die invloedrykste akademiese posisies in die wêreld. Dieselfde aand was hy agter tralies in 'n tronk. Op daardie stadium was Chinese tronke een van die ergste plekke op aarde — 'n broeiplek vir allerhande siektes, marteling en die dood. Mnr. Bi het gou in depressie en wanhoop verval. Oor die volgende paar weke het sy depressie hom gedagtes van selfmoord laat kry. Een middag het hy in 'n wolk van hartseer na die venster van sy tronksel op die agste verdieping gegaan. Daar was nie ruite in die boonste verdiepings se tronkselle nie. As 'n gevangene dus daarvandaan wou afspring, was dit nie 'n probleem nie.



Mnr. Bi se hart het in sy keel geklop toe hy daar uitkyk terwyl hy oorweeg om af te spring. En toe gebeur dit. Hy het 'n klein stemmetjie hoor sê: "Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie. Moet dit nie doen nie." Hy het desperaat in die middel van die tronksel gaan sit.



Daar, op die harde sementvloer, het allerhande herinneringe deur sy kop gemaal. Een van sy vriende, 'n buitelandse professor wat 'n Christen was, het op 'n keer die evangelie met hom gedeel. Mnr. Bi het toe gebid: "Jesus, as U bestaan, bring dan asseblief vir my, soos my vriend my vertel het, die vergifnis en vrede wat U belowe. Ek sal dan my lewe aan u diens wy."



Hy het opgekyk en, "Die lug was nog nooit so blou en die son het nog nooit so helder deur die opening van die venster geskyn nie. Vreugde het in my hart opgeborrel, soos ek nog nooit vantevore ervaar het nie."



Hierdie vername professor het alle vorige voorbehoude laat vaar en uitgeroep: "Ek het 'n blink toekoms in Jesus Christus!" Die wagte het hom gehoor en hom wreed beveel om stil te bly. Niemand kon egter sy vreugde blus nie. Hy het aanhou uitroep, totdat die wagte hom in sy sel kom slaan het.



'n Persoon wat in 'n tronk vry word deur in die evangelie van Jesus te glo, is vryer as enige persoon buite die tronk wat sonder die evangelie lewe.



Mnr. Bi is uiteindelik vrygelaat en het verskeie weeshuise in die Chinese platteland begin, waar hy vir die armes gesorg en baie mense na Christus toe gelei het. Hy het 'n blink toekoms in Jesus Christus gehad. Wanneer jy hom ontmoet, is sy vreugde vandag nog aansteeklik. Hy sal jou vertel dat die vreugde wat hy vandag het, nog dieselfde is wat hy in daardie tronksel ondervind het.



Elke persoon voel met tye dat hy in 'n tronk is wat hy vir homself geskep het — vasgevang in gedagtes, gewoontes, dade en 'n knaende verlede, waarvan hy nie kan ontsnap nie.



Die evangelie leer ons dat die ergste tronk die een is wat ons vir onsself skep. Die tronkselle van so 'n tronk het tralies van onsekerhede, met 'n diepe gewaarwording dat iets in ons nie reg is nie, en dat iets baie stukkend is. Ons dra dit saam met ons soos kettings om ons nekke. Dit is die menslike natuur.



Dit kan net verander as iets drasties gebeur.



Die evangelie is die ingrypendste ding wat met ons kan gebeur. Dit is 'n bloedbesmeerde kruis. Dit is die dood van God self, om ons onthalwe. Dit is die oorwinning oor die dood en die heerlikheid van die opstanding, wat die bewys van God se liefde en krag tot in ewigheid is.



Die Skrif herinner ons dat ons mooi moet aandag gee aan wat ons gehoor het, veral wat die evangelie betref (Hebreërs 2:1). Die belangrikste preek wat jy ooit sal lewer, is die een aan jouself, wanneer jy jou eie hart daagliks herinner: "Ek het 'n blink toekoms in Jesus Christus."


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Chosen: Remind Yourself Of The Gospel Everyday

Wat sou gebeur as jy elke oggend wakker word en jouself herinner aan die evangelie? Hierdie 7-dag oordenking wil jou graag help om juis dit te doen! Die evangelie red ons en onderhou ons regdeur ons lewens. Skrywer en ev...

More

Baie dankie aan "Think Eternity" wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: https://www.thinke.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid