Lewensbeginsels Waarvolgens Jy Kan LeefVoorbeeld

God Sal Sy Wil Aan Jou Bekendmaak
Lewensbeginsel 10: As dit nodig is, sal God die hemel en die aarde beweeg om vir ons sy wil te wys.
God wil altyd die beste vir ons hê en Hy is daartoe verbind om ons te wys hoe om die spesifieke plan te volg wat Hy vir elkeen van ons lewens beplan het. As ons nie die pad volg wat God vir ons beplan het nie, sal Hy allerhande maatreëls tref om ons aandag te trek en ons teen skade te beskerm.
Hy het 'n wye verskeidenheid maniere om ons te help om notisie te neem, onder andere:
1. 'n Onrustige gees
Soms trek God ons aandag deur ons onrustig te maak (Ester 6). As jy diep binne-in jouself 'n rusteloosheid ervaar — iets wat jy nie kan identifiseer nie — word stil en bid: "Here, probeer U iets vir my sê?"
2. 'n Gesproke woord
God kry ook ons aandag deur die woorde van ander te gebruik. As verskeie mense in 'n kort tydjie begin om dieselfde ding vir jou te sê, vra vir die Here of Hy probeer om deur hulle met jou te praat.
3. 'n Ongewone seën
God kan ons op 'n ongewone manier seën om ons aandag te kry.
4. Onbeantwoorde gebed
Soms sal God 'n gebed met 'n "nee" beantwoord. Hy mag stilbly as 'n manier om ons aan te por om onsself te ondersoek.
5. Teleurstelling
Die Here kan terugslae in ons lewens toelaat om ons te weerhou daarvan om ons eie koers in te slaan.
6. Buitengewone omstandighede
Soms gebruik God buitengewone omstandighede om ons te stop en te laat luister. Leer om die teenwoordigheid van God in elke omstandigheid van die lewe te soek; Hy los sy voetspore en handewerk om ons (Eksodus 3).
7. Nederlaag
God mag 'n nederlaag gebruik om vir ons die waarheid te wys. Selfs dit kan egter 'n groot stap na sukses wees (Josua 7).
8. Finansiële probleme
Die Israeliete het in die tyd van die rigters in afgodediens en ongehoorsaamheid verval toe elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë (Rigters 17:6). Eers toe God elke besitting van hulle weggeneem het, het hulle na Hom uitgeroep (Rigters 6:3-6). Die Here het presies geweet wat dit sou kos om hul aandag te kry. Dieselfde geld vir ons.
9. Tragedie, siekte en beproewing
Toe koning Hiskia trots geword het, het God siekte gebruik om sy aandag op die probleem te vestig (2 Kronieke 32:24). Toe Saulus van Tarsus Christene vervolg het, het God hom met blindheid getref; 'n taktiek wat beslis sy aandag gekry het (Handelinge 9:1-19). Ons moet ons tragedies en verdrukkings as redes beskou om die Here te vra: "Wat probeer U vir my sê?"
Die Vader weet altyd presies waar jy jou op jou geloofsreis bevind en presies wat dit sal verg om jou aandag te kry. Let op daarna as enige van hierdie Goddelike metodes in jou lewe voorkom — of hulleself herhaal. As dit gebeur, vra Hom wat Hy jou wil vertel en luister dan ... nie net om te hoor nie, maar om gehoorsaam te wees.
Aangaande hierdie leesplan

Gedurende sy meer as 60 jaar in die bediening, het dr. Charles Stanley die 30 lewensbeginsels getrou beklemtoon wat hom gelei en help groei het in sy kennis, diens en liefde vir God. Laat hom toe om jou te help om elkeen van hierdie beginsels deeglik te ondersoek, om jou te leer hoe om hulle elke dag prakties toe te pas en om jou te lei om die oorvloedige lewe te kan geniet wat Christus vir jou wil gee.
More