Hebreërs 12:2-7

Hebreërs 12:2-7 DB

Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie. Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie. Boonop lyk dit of julle vergeet het hoe God sy kinders moed inpraat: “My kind, moenie dit sommer van jou afskud as die Here jou straf nie. Moenie sommer tou opgooi as Hy jou op jou foute wys nie. As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Daarom tree Hy soms ook hard op teenoor sy kinders.” Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee. Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid