HEBREËRS 12:2-7
HEBREËRS 12:2-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?
HEBREËRS 12:2-7 Bybel vir almal (ABA)
Ons moet dit doen terwyl ons aanhou om te kyk na Jesus, want dit is Hý wat ons van die begin af laat glo het en dit is Hý wat ons tot die einde laat glo. Jesus het geweet dat Hy later weer bly sou wees, en daarom het Hy gedink die skande van die kruis maak nie saak nie. Hy het aangehou om swaar te kry totdat Hy aan die kruis gesterf het. Daarom sit Hy nou op die belangrikste plek by die troon van God. Julle moet goed onthou dat Jesus geduldig was toe die sondaars slegte dinge teen Hom gesê en gedoen het. Julle moet aan Jesus dink sodat julle nie moeg en moedeloos word nie. Julle probeer hard om nie sonde te doen nie, maar julle het nog nie so hard teen die sonde geveg dat mense vir julle wil doodmaak nie. Het julle vergeet dat die Here vir julle bemoedig het omdat julle sy kinders is? Hy het gesê: My seun, die dinge wat die Here vir jou leer, moet belangrik wees vir jou, jy moenie moedeloos word wanneer Hy jou straf nie, want Hy leer vir jou omdat Hy lief is vir jou, Hy straf elke seun wat Hy aanneem. Julle kry swaar sodat julle kan leer, daarom moet julle aanhou glo, want dit is Gód wat julle laat swaarkry omdat julle sy kinders is. Want elke pa leer vir sy kind.
HEBREËRS 12:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie. Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie?
HEBREËRS 12:2-7 Die Boodskap (DB)
Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie. Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie. Boonop lyk dit of julle vergeet het hoe God sy kinders moed inpraat: “My kind, moenie dit sommer van jou afskud as die Here jou straf nie. Moenie sommer tou opgooi as Hy jou op jou foute wys nie. As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Daarom tree Hy soms ook hard op teenoor sy kinders.” Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee. Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie?
HEBREËRS 12:2-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie. Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie. Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem.” Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie?