YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van GetsemaneSample

kykNET Lydenstydgids 2025: In die Skadu van Getsemane

DAY 37 OF 41

Staan op!

Waarom slaap julle? Staan op Lukas 22:46

Kry ‘n beeld in jou gedagtes van die verhaal wat ons lees en verbeel jou jy is daar. Jesus kom na jou toe, Hy vind jou … altyd. Hy het soveel hooie op sy vurk en kies nog steeds om na jou toe te kom. Hy verlang daarna dat jy saam met Hom sy lewe sal lewe. Dat jou drome, gevoelens, beginsels, verbeelding en aanvoeling soos Syne sal wees. Hy wil so graag dat jy met sy bewussyn sal lewe — want dit is dié lewe.

Dit is ‘n groot geskenk as Hy na ons toe kom en ons wakker maak. Dit is nie om ons bewus te maak van hoe sleg ons is nie. Dit is ‘n uitnodiging na meer en beter. Om bewus te word dat ek aan die slaap geraak het is groot. As ek nie weet ek slaap nie, sal ek nooit iets anders wil hê nie. Ek word eers bewus daarvan as ek wakker gemaak word. Ek kan myself nie wakker maak nie. Daarom is my enigste hoop op Hom. Ek kan Hom vra om my wakker te maak vir Hom. Ek vra Hom om my bewus te maak van Hom. As ek bewus geword het dat ek aan die slaap geraak het, kan ek na Hom draai en vir Hom sê dit is hoe ek sal lewe as Hy my nie wakker maak nie.

Dit is ook goed om agter te kom wat ek doen met my pyn en bekommernis. Ons vermy en verdoof onsself deur aktiwiteite en middele, wat ons aan die slaap maak deur ons vervreem van ‘n direkte, ope, volledige bewussyn. As ons bewus raak van wat ons doen kan ons bid en vra dat Hy ons moet help daarmee. Deur ons ontvlugting te erken en ons toe te wy aan Hom, maak ons die deur oop vir ontwaking.

Oefening

  • Vra Hom om jou in die dag wat voorlê te herinner aan Sy teenwoordigheid en liefde in jou lewe. Glimlag as daar iets gebeur wat jou herinner aan Hom.
  • Kry iets waarmee jy die dag gaan loop om jou aan Hom te herinner.

Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.

Scripture