YouVersion Logo
Search Icon

Wapenrusting van GodSample

Wapenrusting van God

DAY 4 OF 43

Lees: Efesiërs 6:12

SOAP: Efesiërs 6:12

"Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug."

Oordenking

Kom ons wees eerlik; die meeste dae voel dit asof ons stryd teen ander mense is. Tog lees ons presies die teenoorgestelde in Efesiërs 6:12. Daardie individue wat ons teëstaan, ons ontmoedig of teen ons is, voel dalk soos ons ware vyande, maar ons stryd is nie teen mense, organisasies of politieke partye nie.

Geestelike oorlogvoering word in die onsigbare terrein gevoer, maar die uitwerking daarvan word dikwels in die fisiese gevoel. Versoekings en konflikte is nie lukraak nie. Sommige het selfs ons gevegte met man teen man gevegte vergelyk. Die geveg is intiem en persoonlik. Ons teëstander is ten volle oorgehaal en gaan voluit.

Ons stryd vind plaas in die geestelike terrein teen die Satan en sy demone. Verse in die Ou en Nuwe Testament praat oor hierdie demoniese magte wat teen ons oorlog voer. Hulle het ten doel om ons lewens te vernietig, of ten minste om ons waardeloos te maak vir God se koninkryk. Die Satan is 'n geskape wese. Hy het beperkte mag. Anders as God is hy is nie alwetend nie en kan nie oral op dieselfde tyd wees nie. Die Satan was op 'n tyd die belangrikste van al die engele, maar trots het sy hart gevul. Hy het teen God in opstand gekom en baie van die engele in die hemel saamgeneem in sy rebellie.

Die Satan haat God en wil Hom vernietig. Die feit dat jy 'n kind van God is, maak dat jy 'n teiken op jou rug het, want die Satan wil enigiets wat God liefhet vernietig. Ons moet bewus wees van hierdie werklikheid, maar nie daarvoor bang wees nie. Daar is 'n balans tussen bewus wees van die Satan, sy demone, hul aktiwiteite en hul invloede en om nie in vrees of konstante beheptheid met hulle te leef. Die Satan is nie opgewasse teen God nie; God het geen gelyke nie. Dus, terwyl ons bewus leef van hierdie onsigbare stryd, leef ons nie in vrees daarvoor nie.

Gebed

Liewe Jesus, dankie vir die herinnering dat ons nie teen ander mense veg nie. Hulle is nie die vyand nie; die bose is. Gee my geestelike oë om die stryd om my te sien en nie daardeur mislei te word nie. Gee my onderskeidingsvermoë om te weet wat werklik in die geestelike terrein aangaan, sodat ek kan bid en daarvolgens kan reageer. Help my om my daagliks te klee met die wapenrusting wat U mildelik voorsien het. Amen.

About this Plan

Wapenrusting van God

Die wapenrusting van God is 'n metafoor wat in die boek Efesiërs gebruik word om die geestelike beskerming en krag tot ons beskikking as volgelinge van Christus te beskryf. In die volgende ses weke sal ons leer hoe om ons te klee met elke deel van hierdie wapenrusting en hoe om dit aan te wend

More