YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 342 OF 364

Wat is die sakramente? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 33, Heidelbergse Kategismus 65-68 en Westminster Geloofsbelydenis 27. Wat leer jy oor die sakramente? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Onthou, dié belydenisskrifte kom uit die Gereformeerde tradisie. Jy is welkom om hiervan te verskil.

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 33: DIE SAKRAMENTE

Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en die heilige nagmaal van Jesus Christus.

Romeine 4:11; Genesis 9:13; 17:10-11; Eksodus 12; Kolossense 2:11; 1 Korintiërs 5:7; Matteus 28:19; 26:26; Romeine 10:9; Kolossense 1:11; 1 Petrus 3:20; 1 Korintiërs 10:2.

Heidelbergse Kategismus 65-68 (Sondag 25)

65 Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b).

(a) Efesiërs 2:8; 6:23; Johannes 3:5; Filippense 1:29. (b) Matteus 28:19; 1 Petrus 1:22-23.

66 Vraag: Wat is sakramente?

Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).

(a) Genesis 17:11; Romeine 4:11; Deuteronomium 30:6; Levitikus 6:25; Hebreërs 9:7-9, 24; Esegiël 20:12; Jesaja 6:6, 7; 54:9.

67 Vraag: Is die Woord en die sakramente albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys?

Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons volbring is (a).

(a) Romeine 6:3; Galasiërs 3:27.

68 Vraag: Hoeveel sakramente het Christus in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?

Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en die heilige nagmaal.

Westminster Geloofsbelydenis 27

Die sakramente

1. Sakramente is heilige tekens en seëls van die genadeverbond. Hulle is deur God saam met daardie verbond 1 ingestel om Christus en sy weldade te verteenwoordig, om ons posisie met en in Hom te bevestig, 2 om 'n sigbare verskil te demonstreer tussen diegene wat aan die kerk en die res van die wêreld behoort, 3 en om plegtig betrokke te raak by gelowiges in diens van God in Christus volgens sy Woord. 4

1. Romeine 4.11, Genesis 17.7, 9-11, Matteus 28.19, 1 Korintiërs 11.23, Eksodus 13.9-10, 12.3-20.

2. 1 Korintiërs 10.16, 11.25-26, Galasiërs 3.27.

3. Romeine 15.8, Eksodus 12.48, Genesis 34.14, 1 Korintiërs 10.21, Hebreërs 13.10, 1 Korintiërs 11.27-29.

4. Romeine 6.3-4, 1 Korintiërs 10.2, 14-16, 21; sien konteks.

2. In elke sakrament is daar 'n geestelike verhouding of sakramentele vereniging tussen die teken en die ding waaraan betekenis geheg word. En so word die name en gevolge van die een aan die ander toegeskryf. 5

5. Genesis 17.10, Matteus 26.27-28, Titus 3.5.

3. Die genade wat in of deur sakramente in hul regte gebruik geopenbaar word, kom nie van enige krag in hulle nie. Die doeltreffendheid van 'n sakrament hang ook nie af van die toegewydheid of die bedoeling van wie dit ook al bedien nie. Die krag en doeltreffendheid van die sakramente is eerder die resultaat van die werk van die Gees 6 en berus op die Woord van God wat dit instel, aangesien sy Woord die gebruik daarvan magtig en voordele aan waardige ontvangers beloof. 7

6. Romeine 2.28-29, 1 Petrus 3.21, Matteus 3.11, 1 Korintiërs 12.13, 3.7, 6.11, Johannes 3.5, Handelinge 8.13-23.

7. Matteus 26.27-28, 28.19-20, Johannes 6.63, Lukas 22.19-20, 1 Korintiërs 11.26.

4. Daar is slegs twee sakramente wat deur Christus ons Here in die evangelie ingestel is: die doop en die nagmaal. Oorspronklik mog geen van die twee toegedien word behalwe ‘n geordende bedienaar van die Woord. 9

8. Matteus 28.19, 1 Korintiërs 11.20,23, 4.1, Hebreërs 5.4.

9. Sien Algemene Nota.

5. Die sakramente van die Ou Testament beteken en openbaar in wese dieselfde geestelike dinge as dié van die Nuwe Testament. 10

10. 1 Korintiërs 10.1-4, 5.7-8, Kolossense 2.11-12.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die sakramente.

Scripture

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More