Wie Is God?Sample

Salomo se gebed word met God se vuur beseël
Salomo het so pas die tempel voltooi en God se teenwoordigheid het die tempel gevul (2 Kronieke 3-5). Hy volg dit op met twee gesprekke. Die eerste gesprek is ‘n toespraak gerig aan die volk (2 Kronieke 6:1-11). Die ander gesprek is ’n gebed gerig aan die Here (2 Kronieke 6:12-42). Daarmee plaas Salomo gebed sentraal in die verhouding met God, iets wat selfs vir die vreemdelinge sal geld.
Lees die twee hoofstukke deur in die Bybel — 2 Kronieke 6-7 — en dink eers ná oor wat die Here daardeur vir jou sê. Dan kan jy nadink oor die paar opmerkings oor gebed wat ek hier gee.
Salomo praat met die mense
Dit val op in hoofstuk 6 dat Salomo sê dat God in duisternis wil woon. Daarmee word waarskynlik verwys na die donker wolk wat op die berg Sinaï met God se teenwoordigheid geassosieer is (Eksodus 20:21) en wat so pas ook in die tempel gesien kon word. In Moses se toespraak aan die einde van sy lewe verwys hy na die wolk van God se teenwoordigheid op Sinaï as ’n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het (Deuteronomium 4:11; 5:22). Ook Dawid verwys in ’n loflied oor die oorwinning wat God in nood gee, na God se verskyning as ’n gebeurtenis waaronder daar duisternis onder sy voete is (Psalm 18:10 soos ook in 2 Samuel 22:10 opgeneem). God se teenwoordigheid het dus ’n misterieuse kant, uitgedruk met die donkerte van ’n wolk, iets heel anders as die duisternis van dié wat God nie wil dien nie, óf die duisternis van die doderyk (Psalm 88:13). Vir God is die duisternis natuurlik soos lig (Psalm 139:12).
Salomo fokus in die res van sy toespraak op God se beloftes oor Dawid en Jerusalem en die rol wat hy nou daarin speel. Let op dat hy die ark spesifiek die ark van die verbond noem wat die verhouding met God — wat deur die ark gesimboliseer word — sentraal plaas.
Salomo bid tot God
Na dié seën van die gemeente, bid Salomo tot God namens die volk vanaf die groot brons "preekstoel".
Hy bring God se beloftes in gebed na Hom toe en vra vir die langtermyn bevestiging daarvan. Dié beloftes is nie net dié van die verbondsverhouding met Israel nie, en die troon opeenvolging van Dawid se nageslag nie, maar ook van gebedsverhoring vir twee belangrike sake:
- vergifnis met oortredings en
- regstelling met verontregting.
Let ook op dat dit gebid word vir die individuele gelowige sowel as vir die geloofsgemeenskap. Maar die kersie op die koek van dié gebed is vir my dat Salomo vir gebedsverhoring ook vra vir die vreemdeling wat bid! Daarmee bely hy dat God die God van almal is wat op aarde woon.
Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars omdat hulle van God se “plek van gebed” ’n handelshuis gemaak het (Markus 11:17: — Jesus haal uit Jesaja 56:7 aan waar soos volg van die tempel gepraat word: “want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.”).
Dit beteken ook dat as die kerk in die NT ná Pinkster van die tempel as primêre aanbiddingsplek skuif na die huis van die gelowiges (vgl die beweging in Handelinge 2 tot 4 van tempel na huis) en daar van gelowiges se liggame as “tempel van die Heilige Gees” gepraat word (1 Korintiërs 6:19), gebed een van die primêre dinge is waardeur ons geestelike lewens gestruktureer moet word.
Dat Salomo dié gebede nie as outomaties verstaan nie, val nogal op, sowel as die feit dat hoewel hy baie maak van die bid "na die tempel toe", hy vra dat God "uit die hemel sal antwoord". God werk binne 'n verhouding en vanuit sy eie domein, nie outomaties en aan óns wil onderworpe nie. Die tempel is daarom net ’n simbool van God se teenwoordigheid. God is oral beskikbaar en teenwoordig.
Hoe mooi sê Salomo nie: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid” (6:41).
Die betekenis van beide hierdie toespraak aan die volk en die gebed tot God is dat die kern van God se betrokkenheid by mense in gebedsverhoring verwoord word. Dit is nogal paradigma-skuiwend, as ’n mens dít ter harte neem. Dit nooi ons uit om in 'n ander tipe verhouding met God te staan, nie net vir jouself nie, maar vir die geloofsgemeenskap sowel as vir die wêreldgemeenskap.
Salomo wy die tempel in
Hoofstuk 7 voltooi die verhaal van Salomo se bouwerk aan die tempel met die inwyding daarvan (2 Kronieke 7:1-11) sowel as ’n tweede verskyning van die Here aan Salomo een nag (2 Kronieke 7:12-22).
Salomo se toespraak en gebed in die voltooide tempel word opgevolg met ’n wonderwerk van vuur uit die hemel, waarskynlik op dieselfde plek as vroeër toe die Here ook vir Dawid met vuur geantwoord het by die dorsvloer van Arauna, dié plek waarop die tempel gebou is. Die brandoffers word verteer waarna die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel gevul het.
Dieselfde refrein as vroeër uit onder andere Psalm 136 word weer gesing waar die geloofsgemeenskap voor die Here kniel in die tempel. Met baie offers word die tempel dus ingewy en is daar feesgevier, ’n verdere sewe dae lank. Let op hoe die volk terugkeer na hulle huise: “bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel.”
Die Here verskyn aan Salomo
Die God van gebedsverhoring verskyn weer aan Salomo om sy toewyding aan die plek van die tempel en aan die volk te bevestig: "Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan."
Terselfdertyd spel die Here sy verwagting van Salomo en die volk uit: “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie."
Die gehalte van Salomo en die volk se Godsverhouding sal die gehalte van hulle lewens bepaal.
- Luister hulle na God om Hom te gehoorsaam, sal daar reën en oeste wees en geen peste nie.
- Luister hulle nie na Hom nie en dien ander gode, sal daar droogte en hongersnood wees en wag die ballingskap op hulle.
Die tempel sou dus nie as vanselfsprekend vir die volk en die koning voorspoed waarborg nie. God se gawe sou in gehoorsaamheid geniet word. En dit sou die verwagting wees regdeur die Koningstyd, ’n verwagting wat natuurlik teleurgestel is, en eers uiteindelik in die Messiaanse verwagting in Jesus vervul is.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

Be Fruitful

Living LifeWise: The Good Samaritan

Helping Your Kids Know God's Good Design

God With Us: Lessons From the Incarnation

Victory Is Yours: Overcome Life’s Challenges God's Way

THE PRAYER of JABEZ

Spiritual Portals

The Power of Generosity: Sharing God’s Abundance

7 Days to Fall in Love With Jesus – Jean-Luc Trachsel
