Wie Is God?Sample

Wat gebeur ná die dood met mense wat nie in Christus glo nie? — Die belydenisskrifte
1. Lees die Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44, die Nederlandse Geloofsbelydenis 37, die Heidelbergse Kategismus 11, 52, en 84, en die Westminster Geloofsbelydenis 33. Wat leer jy oor die betekenis van die oordeelsdag vir alle mense? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?
Geloofsbelydenis van Athanasius 41-44
41. By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan
42. en van hulle eie werke moet rekenskap gee.
43. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen
het, in die ewige vuur.
44. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.
Nederlandse Geloofsbelydenis 37
DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het — dié tyd is vir alle skepsels onbekend — en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Handelinge 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tessalonisense 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Openbaring 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Korintiërs 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matteus 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.
Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matteus 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matteus 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Openbaring 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n mens nooit kon bedink nie.
Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.
Matteus 13:23; 25:13; 1 Tessalonisense 5:1-2; Matteus 24:36; Openbaring 6:11; Handelinge 1:11; 2 Petrus 3:10; Matteus 24:30; Openbaring 21:11; Matteus 25:31; Judas 1:15; 1 Petrus 4:5; 2 Timoteus 4:1; 1 Tessalonisense 4:16; 1 Korintiërs 15:51; Matteus 11:22; Markus 12:18; Matteus 23:23; Johannes 5:29; Romeine 2:5; Hebreërs 6:2; 9:27; Matteus 12:36; 2 Tessalonisense 1:5; (Hebreërs 10:27); 1 Johannes 4:17; Openbaring 14:7; Lukas 14:14; 2 Korintiërs 5:10; Openbaring 21:8; 22:12; Daniël 7; Matteus 25:41; 2 Petrus 2:9; Jesaja 25:8; Matteus 10:32; Openbaring 21:4; Jesaja 66:5; 1 Korintiërs 2:9.
Heidelbergse Kategismus 11, 52 en 84
11 Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.
(a) Eksodus 34:6, 7; 20:6. (b) Psalm 7:10; Eksodus 20:5; 23:7; 34:7; Psalm 5:5, 6; Nahum 1:2, 3.
52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a) Filippense 3:20; Lukas 21:28; Romeine 8:23; Titus 2:13; 1 Tessalonisense 4:16. (b) Matteus 25:41; 2 Tessalonisense 1:6. (c) Matteus 25:34; 2 Tessalonisense 1:7.
84 Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
(a) Johannes 20:21-23; Matteus 16:19.
Westminster Geloofsbelydenis 33
Die Laaste Oordeel
1. God die Vader het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur Jesus Christus, 1 aan wie Hy alle mag en oordeel gegee het. 2 Daardie dag sal nie net die afvallige engele geoordeel word nie, maar die hele volk wat op aarde geleef het, sal voor die hof van Christus verskyn om rekenskap te gee van hulle gedagtes, woorde en dade, en geoordeel word volgens wat hulle in die liggaam gedoen het, hetsy goed of kwaad. 3
1. Handelinge 17.31, Matteus 25.31-34.
2. Johannes 5:22,27.
3. 1 Korintiërs 6.3, Judas 6, 2 Petrus 2.4, 2 Korintiërs 5.10, Prediker 12.14, Romeine 2.16, 14.10,12, Matteus 12.36-37, 1 Korintiërs 3.13-15.
2. God se doel met die reëling van hierdie dag is om die heerlikheid van sy barmhartigheid te toon in die ewige verlossing van die uitverkorenes 4 en die heerlikheid van sy geregtigheid in die verdoemenis van die verworpenes, wat goddeloos en ongehoorsaam is. 5 In daardie tyd sal die regverdiges in die ewige lewe ingaan en daardie volheid van blydskap en verkwikking ontvang wat van die aangesig van die Here sal kom. 6 Maar die goddeloses, wat God nie ken nie en die evangelie van Jesus Christus nie gehoorsaam nie, sal in die ewige pyniging gewerp word en gestraf word met ewige verderf weg van die aangesig van die Here en die heerlikheid van sy krag .7
4. Romeine 9.23, Matteus 25.21, Efesiërs 2.4-7.
5. Romeine 2.5-6, 2 Tessalonisense 1.7-8, Romeine 9.22.
6. Matteus 25.31-34, Handelinge 3.19, 2 Tessalonisense 1.7, Psalm 16.11.
7. Matteus 25.41,46, 2 Tessalonisense 1.9, Jesaja 66.24, Markus 9.47-48.
3. Christus wil hê dat ons heeltemal oortuig moet wees dat daar 'n dag van oordeel gaan wees, as 'n afskrikmiddel vir sonde vir almal en as 'n bykomende vertroosting vir die godvresendes in hulle lyding. 8 Hy het ook seker gemaak dat niemand weet wanneer daardie dag sal wees, sodat ons nooit veilig in ons wêreldse omgewing kan rus nie, maar, sonder om te weet watter uur die Here sal kom, moet ons altyd wakker wees en altyd gereed wees om te sê: “Kom, Here Jesus, kom gou.” 9 Amen.
8. 2 Petrus 3.11,14, 2 Korintiërs 5.10-11, 2 Tessalonisense 1.5-7, Lukas 21.27-28, Romeine 8.23-25.
9. Matteus 24.36, 42-44, Markus 13.35-37, Lukas 12.35-36, Openbaring 22.20.
2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die betekenis van die oordeelsdag vir alle mense.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More
Related Plans

The Letter to the Philippians

How to Love Your Work and God

Lighting Up Our City Video 2: Avoiding Insider Language

Faith in Action: A Journey Through James

Life@Work - Sharing Your Faith in the Workplace

The Discipline of Study and Meditation

How to Love Like Jesus

How Is It With Your Soul?

My Problem With Prayer
