YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 149 OF 364

Vraag 22: Hoe kan jy verlos word? — Johannes 3:16-17

Die verlossing is begrond in die liefde van God. God gee sy enigste Seun, doen afstand van sy innige verhouding met Hom, gee Hom oor aan die dood aan ’n kruis (“opgelig” aan die kruis), omdat Hy ’n passie het vir verlorenes. Hy kan dit nie oor sy hart kry dat mense verlore sal gaan nie, en gee liewer sy eie Seun aan die verlorenheid oor, sodat Hy die ewige lewe kan gee aan dié wat in sy Seun glo.

Dit is daarom duidelik dat God nie in die eerste plek op die pad van veroordeling is nie, maar op die pad van die liefde. Dat daar dan nog mense is wat verlore gaan — die afgryslike grusame werklikheid van sy oordeel, sy woede oor die sonde, sal belewe, soos Johannes die Doper dit net hierna beskryf (Johannes 3:36) — is te wyte aan hulle eie voorliefde vir die duisternis, en hulle weiering om na die lig te kom.

Jesus nooi ons dus uit om in Hom te glo, om Hom alleen te aanbid en vir Hom alleen te lewe. Paulus sê daaroor: “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my.” (Galasiërs 2:19). Dit is wat geloof beteken. Dit is nie net om die Here aan te neem en jou hart vir Hom te gee nie. Dit is uiteraard belangrike keuses.

Maar, dit hou veel meer in. Geloof laat Jesus toe om deur sy Gees jou hele lewe oor te neem en op sy bevel te leef. Om vanuit ‘n diep persoonlike verhouding met die Here sy leiding te volg in alles wat jy doen, saam met dié gelowiges wat die Here vir jou as ‘n geloofsgemeenskap gee.

1. Dit is seker die bekendste verse in die Bybel. Dit vertel van God se liefde in Jesus. Van die ewige lewe wat ons deur Hom kry. Van die verlossing wat Hy ons gee. Hoe laat dit jou voel?

2. Jesus is ons Verlosser. Wat beteken hierdie verlossing prakties? Hoe help dit dat jy nie veroordeel sal word nie?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die volkome verlossing wat jy in Jesus het.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Johannes 3 lees met die tema: As iemand nie van bo-af gebore word nie.

Scripture

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More