YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 131 OF 364

Watter soort Verlosser het jy nodig? — Filippense 2:6-8

Hierdie is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi. Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie "alhoewel.“ Alhoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met "omdat.“ "Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”

Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ’n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie — “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

1. Paulus fokus hier op Jesus se prysgawe van sy Goddelikheid en sy vernedering as mens tot met sy gehoorsaamheid in die kruisdood. Hoe laat hierdie geweldige gawe jou voel oor Hom?

2. Jesus gee nie net sy Goddelikheid prys nie, maar gebruik sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping. Wat sê dit vir jou van ons eie rol as navolgers van Jesus?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die voordeel wat jy uit Jesus se prysgawe geput het. Loof Hom daarvoor deur Hom na te volg in jou eie konteks.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Filippense 2 met die tema: Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More