YouVersion Logo
Search Icon

KykNET Lent GidsSample

KykNET Lent Gids

DAY 36 OF 39

Heilige losmaking

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het. Breek met die ou sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word. Lewe as nuwe mense wat na die beeld van God geskep is. Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”
Efesiërs 4:22-24.

Rachel Murray Martin het iewers hierdie wyse woorde geskryf: “Soms moet jy die prentjie opskeur hoe jy gedink het jou lewe gaan wees, en leer om vreugde te vind in die verhaal wat jy eintlik leef.”

Om vrede te maak met hoe die lewe is — en die idee van hoe my lewe moes gewees het, te laat vaar — is ‘n lang en moeisame proses, maar ongelooflik bevrydend. God sou graag wou sien dat daar diepe vrede in elkeen van ons se lewens moet wees. Ek word genooi om te leef met ‘n “heilige ontkoppeling” – die vermoë om op ‘n heilige manier die mense en die dinge in my lewe te laat vaar, om die lewe sy gang te laat gaan, en om nie met ongesonde denkpatrone te leef nie.

Ek vermoed dat vryheid van verwyt in my hart kan groei wanneer ek ongesonde denkpatrone in my lewe begin identifiseer, dit afbreek, en dit laat vaar. Dan groei ek in ‘n lewe van verantwoordelikheid en vergifnis en vryheid.

Van watter ongesonde denkpatrone in jou lewe word jy bewus?
Waaraan klou jy vas?

Herhaalgebed:

Here, gee my die genade om vry van verwyte te lewe.