YouVersion Logo
Search Icon

KykNET Lent GidsSample

KykNET Lent Gids

DAY 31 OF 39

Die uitnodiging om weer in te skakel

"… want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe"
(Efesiërs 2:10).

Om gedurig goed genoeg te probeer wees kan lei tot ‘n soort selfliefde waar ons omtrent nooit die tyd en plek kan kry om in aanraking te kom met die dieper bewegings in en om ons nie. Ons sal slegs ons wesenlike goedheid en waardigheid, die feit dat ons God se handewerk is, ontdek wanneer ons tyd en plek maak om waar te neem wat onder die oppervlak gebeur.

‘n Vriend beskryf onlangs vir my die angs wat hy ervaar wanneer hy geen elektrisiteit het nie en dit donker is. Ek het gevra wat die oorsprong van die angs is. Na ‘n kort bepeinsing, sê hy dat hy onseker voel in die donker omdat hy nie weet wat om hom aangaan nie.

Dis ook ‘n goeie beeldspraak wat op ons geestelike lewe van toepassing is. Wanneer ek onbewus is van wat om my en binne my aangaan, kan ek vinnig onseker voel in en oor myself. As ek myself nie die tyd en plek gun om in aanraking te kom met die dieper bewegings in my nie, kan ek maklik verval in daardie gevoel dat ek nie goed genoeg is nie en niks het om te bied nie. Ek verloor die verbintenis met die diepste deel van myself en leef onseker op die oppervlak. Soos die punte van ‘n tou, rafel my innerlike lewe uit, en ek verloor die verbintenis met my wesenlike waardigheid en goedheid soos ek geskape is as die beeld van God.

Lydenstyd is ‘n Godgegewe geleentheid om my waarde weer op te eis deur ten diepste in aanraking te kom met myself. Lydenstyd nooi my om weer te ontdek wat ek dalk in die dolheid van my alledaagse lewe laat wegglip het. As ek op die hierdie uitnodiging reageer, sal ek ontdek dat ek altyd goed genoeg is.

In die klaarblyklik oneindige chaos en verwarring, wedywering en gejaagdheid, is ek tog binne myself geanker, en die onsekerheid om my laat my nie aan my wesenlike goedheid twyfel nie. Inteendeel, ek kan vashou aan die feit dat ek goed genoeg is omdat ek in God geanker is.

Oefening:

Hoe bewus is jy van die dieper bewegings in jou en om jou? Is daar dele van jou lewe wat dalk uitrafel? Kan jy hulle opnoem? Ruim vandag tyd en plek in om weer met jou diepste menswees in aanraking te kom. Praat met God oor wat nou in jou hart is.

Herhaalgebed:

“Ek het jou lief met ’n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe”. (Jeremia 31:3)