YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Inspirasie-oomblikkeSample

Inspirasie-oomblikke

DAY 3 OF 7

“Vier lewe!” Ek glo lewe is in God se hande. God skep lewe, Hy betaal met sy lewe sodat ons lewe in oorvloed kan hê, maar dit beteken nie ons hét lewe nie. Ons moet lewe kies: “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders” (Deut 30:19). Ek moet erken – hierdie keuse klink tog ’n bietjie vreemd. Ek het mos lewe, ek kies nie lewe nie, of hoe? Ek leer egter uit God se woorde ons het asem en ons het geleende tyd, maar lewe lê in hierdie keuse wat elkeen van ons vir onsself moet maak, elke dag en elke jaar wat tot ons lewe gevoeg word. Die keuse en wat dit behels, word as volg omskryf in Deuteronomium 30:20: “Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe! Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee.” Het jy al gekies? Het jy gekies om God lief te hê met ’n liefde wat uit jou hart en siel en met al jou krag en verstand kom; gekies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen? Hy weet verseker beter, maar Hy gee ons steeds die keuse. Het jy al gekies om gehoorsaam te wees en Hom gekies as die middelpunt van jou bestaan en die rede hoekom jy lewe? Vir nog ’n dag en vir nog ’n lewensjaar kies ek om te lewe asof my lewe van Jesus afhang, want dit ís so! Een lewe. Een kans. JOU keuse! Hierdie oordenking is geneem uit 101 INSPIRASIE-OOMBLIKKE deur Lindie Strydom © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Day 2Day 4

About this Plan

Inspirasie-oomblikke

Soms stuur die lewe situasies oor jou pad wat eintlik kosbare groeigeleenthede is ... jy moet net deur die regte bril daarna kyk. Dit is soms ’n alledaagse gebeurtenis, soos om in ’n ry te wag. Leer dit raaksien en gebru...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy