YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Meer As KoraleSample

Meer As Korale

DAY 2 OF 7

’n Vrou se woorde Waar, wonder jy dalk, het hierdie vrou vandaan gekom? Hoe het die vrou van Spreuke 31 die maatstaf geword vir skoonheid en ’n lewe wat vir God mooi is? Glo dit of nie, sy het begin met ’n regte vrou van vlees en bloed. Spreuke 31 is deur ’n vrou geuiter. Dit is nie die woorde of onderrig van ’n man wat die een of ander persoonlike en onrealistiese fantasie wou skets nie. Dit is waar dat ’n man (koning Lemuel) dit vir ons neergeskryf het, maar hy herhaal sy ma se woorde – ’n vrou se mening – oor hoe ʼn vrou behoort te lyk en te wees. Hierdie waarheid inspireer en bemoedig my. Ek waardeer hierdie vrou-tot-vrou-onderrig en ek het dit nodig namate ek al hoe meer ontdek wat vir God mooi is. Ek wil ontdek hoe ware skoonheid in God se oë lyk. En wie beter is daar om dit vir my te wys as ’n vrou wat self in God se oë pragtig is? Selfs al begin Lemuel se ma met ʼn vraag – “Waar sal jy ’n knap vrou kry?” (31:10) – verwag sy ten volle dat haar seun so ’n vrou met karakter sal gaan soek. Wanneer ’n man in Ou Jerusalem getrou het, het die mense altyd gevra: “Het hy ’n knap vrou gevind?” Omdat Lemuel se ma geweet het daar ís so ’n vrou daar buite (31:29), het sy haar seun aangemoedig om na haar te gaan soek. Hierdie ma se vertroue dat so ’n vrou wel bestaan, bemoedig my ook. Die vrou van Spreuke 31 bestaan regtig! Ek en jy kan hierdie vrou wórd. Ons hoef haar nie net te bewonder nie, ons kan sy wéés. Sy lyk dalk onaantasbaar, ’n ideaal wat ons nooit sal kan bereik nie, maar dit is so nie. God doen baie moeite om hierdie vrou ook op ander plekke in die Bybel vir ons te wys. Hy wys vir ons vir Rut, “’n eerbare vrou” (Rut 3:11). Hy sê vir ons “’n goeie vrou is haar man se trots” (Spr. 12:4). En Hy verklaar “daar is baie knap vroue” (31:29). Baie! Ja, die knap vrou is ’n seldsame skat – ’n skitterende, uitsonderlike, buitengewone, onoortreflike skat. Maar volgens God, die Skepper van alle skoonheid, kan ek en jy alles word wat hierdie knap vrou is.

Scripture

Day 1Day 3

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy